“Leef in verwagting dat die dag van God kom
en beywer julle daarvoor.....” – 2 Petrus 3:12.
Wanneer hierdie teks raak gelees word,
staan baie mense verbaas.
Mense wat dink die wederkoms datum is vas,
en onveranderlik op die kalender bepaal.
Veral die woorde dat ons ons kan beywer
vir die koms van die Here is verrassend.
Dat gelowiges die wederkoms kan verhaas,
deur hulle daarvoor te beywer.
Natuurlik kan ons nie “God se arm druk” hieroor nie.
Maar dit staan duidelik in die Griekse teks hier:
Gelowiges kan die wederkoms nader bring.
Aangrypend.
Ons is so gewoond daaraan om staties oor God se wil te dink.
Maar, nie alleen kan God sy plan verander wat ‘n mens
se sterfdatum betref nie, volgens die verhaal met koning Hiskia,
maar Hy kan ook sy plan verander oor die grootste datum
wat nog moet kom: die wederkoms.
God is bereid om die gelowiges se smeekgebede hieroor aan te hoor.
Maar Hy kyk ook na hoe ons leef, 2 Pet. 3:11-14.
Alles wat ons doen het ‘n impak op die wederkoms.
God se kant van tyd is dinamies.
‘n Duisend jaar soos een dag, en andersom.
God pas sy tyd aan soos Hy wil.
Hy sien raak hoe gelowiges volgens sy wil leef.
Hy hoor as hulle Hom smeek.
Hy sal besluit of Hy die tyd inkort of uitstel.
Die verstommende van alles is: Ons gebede het ‘n effek hierop!
Ons kan bid asof die lewe hiervan afhang.
Want dit doen!
Ernest