Wanneer die wederkoms nie so spoedig plaasvind
as wat die gelowiges verwag het nie,
dan skryf Petrus in 2 Pet. 3:4 dat die wêreld inderdaad
met ons die spot sal dryf en sal sê:
“En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms?....”
Jesus vertel in die gelykenis van Lukas 14
ook ‘n ander kant van die saak:
Ongeloof kan tot gevolg hê dat God sy feesmaal aanskuif.
Jesus vertel hierdie gelykenis oor die feesmaal
met die wederkoms van die Here.
Die gasheer nooi mense vir die maaltyd.
Een na die ander maak verskoning om nie op te daag nie.
Die gasheer stuur dan die slaaf na die strate en gangetjies
om mense uit te nooi. Die fees is gereed,
maar die feesmaal moet vol wees!
Die armes, kreupeles, blindes en lammes is nou ook genooides.
Die nuwe genooides daag almal op! Maar daar is nóg plek!
By die paaie en lanings word nóg mense genooi!
God se fees moet vól word!
Dit is wat Jesus bedoel as Hy in Matteus 24 sê
die evangelie moet eers na die hele wêreld toe gaan
voordat die wederkoms aanbreek. Dringend!
Ons is midde-in ‘n Goddelike misterie.
Aan die een kant kan ‘n gehoorsame biddende kerk
die wederkoms nader roep en smeek deur gebed,
en aan die ander kant kan die feit dat God se hemelse feesmaal
nog nie vol is nie, die aanbreek van die ewige fees uitstel.
Wat moet óns doen?
Wat is ons roeping in die tyd voor die koms van die Here?
Ons moet sorg dat die feesmaal vol kom! Beywer julle!
Ons moet soos die slaaf uitgaan, en almal inbring na die feesmaal!
2 Pet. 3:9-10 en 12:
“Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie,
al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle,
omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie:
Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.
Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ‘n dief kom...
Leef in verwagting dat die dag van God kom,
en beywer julle daarvoor...”
Beywer jou vir die koms van die Here!
Ernest