In die strokiesprent van “Hagar die Verskriklike”,
kom die priester na Hagar toe en sê vir hom:
“Dit is beter om ‘n kers aan te steek,
as om die donker te vervloek”.
Wanneer die priester wegloop sê Hagar:
“Maar ek geniet dit om die donker te vervloek.”
Baie mense kies om so te lewe.
Om te kla...eerder as om te lewe.
Dit is beter om ‘n kers aan te steek,
as om heeltyd te kla oor die donker kante van die lewe.
Iemand het gesê:
“However mean your life is, meet it and live it:
do not shun it and call it hard names.”

Psalm 136:1 sê: “Loof die Here, want Hy is goed.
Aan sy liefde is daar geen einde nie.”
Hoe volg ons die raad om eerder “‘n kers aan te steek”?
Leef hierdie woorde van Psalm 136 uit!

Eerstens: neem fyn waar. Wees deurgaans bewus van die
teenwoordigheid van die Here en sien dit rondom jou raak!
Selfs Job met al sy ellende getuig in Job 19:27:
“Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien,
Hom en niemand anders nie.
Ek smag daarna met my hele lewe.”

Tweedens: getuig en vertel ander van die Here.
Help hulle om ook vir God raak te sien,
rondom hulle en in hul eie lewe.
Die goeie nuus van die Here Jesus is genade,
wat ons van pyn vry maak.
Te midde van pyn ontdek ons God het sagte oë,
sagte hande en ‘n warm hart.
Gelowiges is nie bonatuurlike of onnatuurlike mense,
of geloofs-helde nie.
Gelowiges is gewone mense,
wat dit vir ander gewone mense makliker maak,
om te glo dat God leef en dat Hy ons liefhet,
en dat Hy saam met ons deur ons pyn en donker gaan.

Steek vir jouself en ander mense ‘n kers aan,
en verdryf die duisternis,
eerder as om in die donker te leef en dit te vervloek!
Môre kyk ons na nog drie dinge wat ons kan doen,
om “’n kers aan te steek...”

Ernest