Dit is beter om ‘n kers aan te steek,
as om heeltyd te kla oor die donker kante van die lewe.
Dit is beter om ‘n kers aan te steek,
as om die donker te vervloek.
Romeine 12:21 sê:
“Moenie jou deur die kwaad laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
Ons het reeds na twee maniere gekyk,
om “‘n kers aan te steek”:
Eerstens: neem fyn waar en bly deurgaans bewus
van die teenwoordigheid van die Here.
Sien Hom raak in jou lewe, en rondom jou.
Tweedens: getuig en vertel ander van die Here
se teenwoordigheid, genade en goedheid.

Nou in die derde plek: vergewe!
Pyn kan jou bitter maak. Emosionele en fisiese pyn...
Leef uit die vergifnis van die Here, en vergewe ander!
Vergifnis is liefde se opstand teen die lewe se onregverdigheid.
As jy vergewe laat jy ‘n gevangene vry, en jy ontdek dit was jý!

Vierdens: onthou, jy is nie Christus nie, net sy volgeling.
Die wêreld het klaar ‘n Redder. Weerkaats Hom!
‘n Man het ‘n straatseuntjie op straat gehelp met kos en klere,
en huisvesting in ‘n plek vir veilige bewaring.
Toe die man wou vertrek het die seuntjie aan hom gevra:
“Meneer, is jy Jesus?”. “Nee”, het die man geantwoord:
“Hý doen alles, ja, maar ek is net een van sy volgelinge.”
Mense kan deur ons teenwoordigheid
Jesus se teenwoordigheid ervaar,
wanneer ons Jesus se lig weerkaats. Steek ‘n kers aan!

In die vyfde plek: moenie in pyn vergeet wié jy is nie.
Galasiërs 5:25: “Ons lewe deur die Gees,
laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.”
Die Heilige Gees, as ons Trooster wat in ons woon,
help ons: Om te kan volhard. Te kan onderskei.
‘n Fyn aanvoeling te kan hê.
Die waarheid raak te sien. Onbeperk te kan liefhê.
Kreatief te kan dien. Oorvloedig te kan gee.
Voluit te kan leef!
Oor die Heilige Gees wat in ons woon,
het die Franse priester, Teilhard de Chardin gesê:
“We are not human beings having a spiritual experience,
but spiritual beings having a human experience.”
Die Heilige Gees bly in ons en help ons,
om mense te wees soos God dit bedoel,
ten spyte van ons omstandighede. Ten spyte van!

Steek ‘n kers aan...eerder as om die donker te vervloek.

Ernest