Daar is veral vier dinge wat ons kan onthou
om te besef dat God altyd ons bron van hoop is:
Hou jou oog gevestig op die hemel.
Die onmoontlike is moontlik.
God omvou jou met liefde en genade.
Hoop is nie iets nie, maar die Persoon Jesus Christus.

In die eerste plek: hou jou oog gevestig op die hemel.
Jesaja 66:1 het al gesê: “So sê die Here:
“Die hemel is my troon en die aarde die rusplek vir my voete.”
Kinders van die Here weet dat dinge nie hier eindig nie.
Daarom leef hulle met die verwagting van die hemel.
Dit beteken dat hulle nou ook reeds iets van hemel op aarde beleef.
Hoop laat jou die hemel sien en dit hier uitleef!
Die hemel is meer as net ‘n “plek”.
Die hemel word geleef op aarde deur nou al vir mense
die bedoeling van God met hierdie wêreld uit te leef.

C. S. Lewis stel dit treffend:
“If you read history you will find that the Christians who did
the most for the present world were just those who thought
most of the next...
Aim at heaven and you will get earth “thrown in”.
Aim at earth and you will get neither.”
Kolossense 3:2:
“Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is.”

Daar is baie dinge in die lewe wat soos ‘n venster op die hemel is.
Sien die Here in die alledaagse raak.
Dit is telkens ‘n hemelse oomblik.
Henry David Thoreau het hierdie groot waarheid gesê:
“Heaven is under our feet as well as over our heads!”
Leef daarom ook so dat mense deur jou iets van
hemel op aarde beleef.
Dit beteken om eenvoudig jou unieke self te wees,
soos God dit bedoel het om jou unieke self vir Hom te wees.
En om die Here as Skepper en lewe-gewer te sien,
in elke mens met wie jy te doen het.
So leef ons nie net self met hoop nie,
maar gee ook hoop aan die mense saam met wie ons lewe.

Ernest