Daar is veral vier dinge wat ons kan onthou om
te besef dat God altyd ons bron van hoop is:
Hou jou oog gevestig op die hemel.
Die onmoontlike is moontlik.
God omvou jou met liefde en genade.
Hoop is nie iets nie, maar die Persoon Jesus Christus.
Vandag gee ons aandag aan die tweede:
Die onmoontlike is moontlik.

Die verhaal van die Ou Testament
én die Nuwe Testament is juis dit:
God is die God wat die onmoontlike doen.
Daarom gee gelowiges nooit hoop op oor ‘n situasie
of ‘n mens nie, want by God is die onmoontlike moontlik.
Jesus se oorwinning aan die kruis en sy opstanding uit
die dood is die heel grootste bewys daarvan.
Die moontlike is ons werk en die onmoontlike is God se werk.
As ons dit nie glo nie, glo ons nog nie.

T. S. Eliot het gesê: “For us there is only the trying.
The rest is God’s business”
Eendag het die bekende Skotse predikant, George MacDonald,
met sy seun gepraat oor God, wat Hy alles kan doen,
en oor die hemel en die ewige lewe.
“Dit klink te goed om waar te wees”, het die seun geantwoord.
“Dit is só goed dat dit waar moet wees”, het die pa geantwoord.
As gelowiges is ons deel van die antwoord, die oplossing.
Die pessimis sien die probleem.
Die gelowige met hoop sien die plan en die oplossing,
omdat God dit het, en dit gee.

“Niks is vir God onmoontlik nie” – Lukas 1:37.
Indien ons slegs logies dink, is die toekoms bleek.
Maar ons dink en weet meer as net logies.
Ons is mense, God se mense, as gelowiges sy kinders.
Ons het geloof in Hom, en ons hoop is op Hom!

Ernest