Iemand het gesê baie Christene is soos duikbote.
Hulle kom net Sondae so stilweg na die oppervlakte toe,
om nuwe voorrade by die kerk in te neem.
Die res van die week verdwyn hulle weer onder die oppervlakte.
Party sal dalk in die loop van die week hul periskope
bokant die oppervlakte uitsteek,
om ‘n Bybelstudie of biduur by te woon,
en dan verdwyn hulle weer.
Sondae sit duisende Christene in die kerk,
en in die week maak hulle min verskil.

Daar sou baie redes of oorsake hiervoor kon wees.
Vraag is of ons nie net dikwels skaam geword het vir ons geloof
in die moderne wêreld waarin ons leef nie.
Ons is skaam om ons identiteit uit te leef.
By die werk en tussen ander mense ondergaan Christene dan
dikwels ‘n hele gedaanteverwisseling.

Jesus het goed geweet dat mense skaam en bang
kan wees oor hulle geloof in Hom.
Daarom sê Hy aan sy dissipels dat jy ‘n keuse moet maak
oor wie jy nou eintlik wil vrees: God, of die mense.
Matteus 10:28:
“Moenie bang wees vir dié wat die liggaam kan doodmaak,
maar die siel nie kan doodmaak nie.
Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel
in die hel kan laat vergaan.”
Volgens Jesus kan jy nie vir beide, God en mens, tegelyk bang wees nie.
As jy jou bes doen om nie aan ander aanstoot oor jou geloof
te gee nie, het jy volgens Jesus nie genoeg respek en eerbied
vir God nie.

Volgens vers 26 moet jy ophou om vir mense bang te wees.
Mense kan jou net na liggaam doodmaak.
God kan jou in die ewige verdoemenis laat beland - vers 28.
Ons moet ons geloof oop en eerlik gaan uitleef.
As ons dit nie doen nie, moet ons besef dat Jesus Hom uiteindelik
ook op ‘n dag so sal skaam vir ons gedrag, dat Hy sal maak asof Hy
ons nooit geken het nie – verse 32-33.

Jesus bedoel nie hiermee dat ons doodbang vir God moet wees nie.
In verse 29-31 sê Jesus dat God die Een is wat die hare op ons kop tel.
Ons leef uit sy hand, Hy wat ook vir die mossies sorg.
Feit is: Ons lewe moet nooit groter as God raak nie.
Wanneer ons ons geloof openlik uitleef, dan is God groter as ons lewe.
Bely God se Naam openlik en onverskrokke, en leef voluit vir Hom.
Gaan beleef ook só dat Christus so tevrede is met jou kindskap van God,
dat Hy jou naam openlik voor sy Vader wat in die hemel is uitspreek!

Ernest