Wat is jou gesindheid ten opsigte van armoede?
Vooroordeel, of is jy barmhartigheid?
Ruk armoede jou aan die hart? Of kyk jy maar anderpad?
13,8 miljoen mense in ons land leef in uiterste armoede.
Dit is op minder as R 441 per maand! Waar pas ons in!?
Charles Peguy het gesê:
“Tensy ons absoluut geniaal is, kan ons ons nooit voorstel
wat dit is om in uiterste armoede te leef nie.”
Moeder Teresa het by geleentheid gesê:
“Armoede is die ergste vorm van eensaamheid.”
Mense wat bitter swaar kry, en dan in die oë van vooroordeel kyk.
Sover ons beweeg sien ons armoede en swaarkry. As ons wil sien.
Plakkershutte sonder water en krag.
Rye mense op straathoeke sonder werk, en brood.
Klein “winkeltjies” op straat wat iets verkoop vir kos op die tafel.
Wat is hul opbrengs? Wat kry hul vir los werkies?
Vuurmaakhout is vir winterkoue, nie vir braaihout.
Rye mense wat desperaat, sonder inkomste,
siek voor klinieke en hospitale sit.
Daagliks sien ons bedel hande voor ons. Leë gesigte. Wanhoop.
Nou is dit ook in ons midde. Mense wat werk verloor. En huise.
Wat nie meer krag kan betaal nie, of skoolfonds. Of kos vir kinders nie.
Wat uit motors begin lewe, en aan ons, die kerk, se deure kom klop.
Armoede is nie meer iets daar ver nie. Dit is in ons gemeente....
Mense wat nie meer het nie, en ook ander moet versorg.
Sonder werk, sonder klere, sonder kos.
Ons probleem is vooroordeel, ontkenning, dat ons ander pad kyk.
Is daar by jou vooroordeel? Of is jy werklik barmhartig?
Kan jy help? Ja jy kan! Bid en bid. En gee asseblief uit jou oorvloed,
want dit is hoe die gemeente kan help.
“Ons” is immers die kerk, die gemeente, wat moet help.
Die gemeenskap van gelowiges....soos ons bely, en gló!
Oor die maaltyd in die koninkryk van God
sê Jesus in die gelykenis in Lukas 14:21:
“Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes,
en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.”
Ons dink aan Jesus se woorde in Johannes 12:8:
“Die armes het julle tog altyd by julle...”,
en dan wil ons dit maar net as ‘n gegewe aanvaar,
sonder om daadwerklik iets daaraan te doen. Is dit wat Jesus bedoel!?
Kom ons pleit by die Here om ons vooroordele weg te neem.
Kom ons bid vir die armes en die armoede krisis, maar meer nog;
kom ons word self deel van die verhoring van ons gebede!
Dit is tog hoe God wil werk. Deur jou wat bid. Deur jou wat dan gee.
Bid dat ons vooroordele afgebreek word, deur die Gees self,
en dat ons met die liefde van die Here die méns raaksien,
soos Jesus hom sien,
wat in wanhoop voor ons staan...wat nie meer het nie,
en nie meer weet nie, en nie meer kan of wil glo nie.
Is jy vol vooroordeel wanneer mense voor jou staan?
Of is jy barmhartig, in jou oorvloed?
Gee, want jy is die gemeente, wat dan kán gee.
Ernest