Ons ly almal aan die probleem van negatiewe vooroordeel.
Ons veroordeel met vooroordeel nog voordat God oordeel!
Jesus waarsku daarteen in Matteus 7:1-2:
“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie;
met dieselfde oordeel waarmee julle ander oordeel,
sal oor julle geoordeel word,
en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet ,
sal vir julle gemeet word.”

Ons is vol vooroordeel en veroordeel ook maklik.
En dan is ons natuurlik aan die regte kant van die lyn van oordeel.
Jesus vertel in Matteus 13 ‘n gelykenis van koring en onkruid
wat in dieselfde land gesaai is, die koring deur die boer,
en die onkruid deur die vyand.
Die werkers wil dan sommer die onkruid uittrek,
terwyl die plantjies nog klein is.
Die boer sê dat hulle moet wag terwille van die oes en die koring,
anders word beide onkruid en koring saam uitgetrek.
Die betekenis van die gelykenis is dat die Here wag,
ter wille van die volle oes,
en dat ons nie oorhaastig moet wees om te oordeel nie.
God gee in sy liefde en genade nog ruimte vir groei.
Ons moenie God voorspring met oordeel nie.
En ons doen dit met al ons vooroordele!

God is geduldig met al sy skepsels.
God is barmhartig en genadig met alle mense.
Hy is lankmoedig, lydsaam en vol liefde.
Hy laat die son opkom en Hy laat reën oor goeies en slegtes.
God skep, en na eeue herskep Hy deur Christus wat Hy stuur,
en dan gee hy die Heilige Gees om aan te hou met sy skeppingswerk.
God laat in sy genade ‘n Saulus ‘n Paulus word, en ‘n Simon ‘n Petrus,
en die misdadiger aan die kruis ‘n paradysganger!
Ons moenie haastig wees om te oordeel,
en in vooroordeel teenoor mense te leef nie.
Ons moet ook ‘n hart kry vir alle mense.
Moenie bevooroordeeld wees ten opsigte van enige mense nie!

Ernest