Baie mense leef net vir die dag van môre.
Vir hulle is die sin van die lewe altyd
so ‘n tree of wat buite bereik.
Môre, volgende week, volgende maand,
of volgende jaar sal dinge weer beter gaan.
Hier en nou is deurmekaar, sonder vrede en geluk.
Vanweë ons beheptheid met die toekoms,
begin ons ons hele lewe op die toekoms inrig.
Die hede is as’t ware net daar om vir die toekoms te beplan.
In die toekoms sal dit geleef word.
Natuurlik moet ons beplan en vir die toekoms voorsiening maak.
Geloofs-mense leef ook met ‘n toekomsverwagting.
Die Here is immers aan’t kom!
Maar dit word ‘n probleem as ons bestaan net om
die dag van môre draai, en die lewe hier en nou sy glans verloor.
In Matteus 6:34 spreek Jesus Hom uit oor ‘n beheptheid
met die toekoms: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie,
want môre bring sy eie bekommernis.
Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”
Jesus beklemtoon in die gedeelte aan die dissipels:
Ons het ‘n hemelse Vader wat elke dag vir ons sorg.
Ons moenie heeltyd oor die toekoms loop en tob nie.
Die lewe moet immers hier en nou geleef word.
Niemand het die versekering dat jy môre gaan leef nie.
Ons kry een porsie daaglikse lewe op ‘n slag.
Oor die verlede het ons nie meer beheer nie. Dis verby.
Dit is opgeleef en geskiedenis.
Môre is net so onvoorspelbaar as ons sterfdatum.
Dit help nie om nou ‘n maagseer oor môre te ontwikkel nie.
God gee vandag aan ons, om vandag tot sy eer te leef.
Christene kan inderdaad ontspan en meer sorgvry leef!
Ons dien mos die lewende God wat die heelal in sy hand hou!
En ons weet dat Hy self oor ons lewe wag hou.
Ons was gister in sy hand, is vandag in sy hand,
en sal môre in sy hand wees.
Indien ons nie vandag tot sy eer leef, met volle vertroue op Hom nie,
hoekom sal ons dit môre doen, en oormôre?
En so word die lewe een lang opdraande stryd.
Iemand wat geleer het om vandag saam met God te leef,
sal in elk geval meer sorgvry oor môre kan nadink,
en reg daarvoor beplan.
Kry die moed om vandag in God te glo,
en vandag op Hom te vertrou vir jou lewe. Leef vandag!
Ernest