Ons samelewing draai om ons uiterlike lewens. Ongelukkig.
Ons span al ons tegnologie, kennis en vernuf in,
om ons uiterlike omgewing te beheer. Ook uiterlike voorkoms.
Alles wat ons rondom ons beleef,
is om ons uiterlike lewe gemakliker en lekkerder te maak.
Tog het hierdie klem op die uiterlike lewe
die mens van homself vervreem.

In plaas daarvan dat ons meer gelukkig en tevrede is,
is ons oorwerk, oorspanne, lewensmoeg, afgestomp.
En dan probeer ons dit met nog meer klem op die uiterlike oplos!
So raak ons meer bekommerd oor dinge soos ons begroting,
en die komende vakansie,
as oor die dinge wat regtig saak maak in die lewe.
Dinge soos derduisende mense wat nog smag na God se Woord.
Dinge wat regtig saak maak in die koninkryk van God.

Kolossense 3:1-2 plaas ‘n belangrike klem op ons lewenswyse:
“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is,
moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is,
waar Hy aan die regterhand van God sit.
Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is,
nie op die dinge wat op die aarde is nie...”
Ons spandeer meer tyd aan ons uiterlike lewe as innerlike lewe.
Hoe kan ons dit verander?
Ons moet ons gedagtes doelbewus meer op Christus rig,
en die dinge wat daarbo is. En op dit wat God bedoel
met sy koninkryk in hierdie wêreld.
Dit is nie maklik nie aangesien ons leef in ‘n besige wêreld
wat op die uiterlike gerig is,
en waar ons te besig vir God geword het!

Begin deur doelbewus tyd te maak vir innerlike menswees en groei.
Stiltetyd saam met die Here. Woon eredienste by.
Soek geleenthede om die waarhede wat ons daar kry uit te leef.
Doen dit doelbewus. Kuier saam met medegelowiges,
en gesels saam oor innerlike groei rondom die braaivleisvuur.
Lees ‘n goeie boek wat jou laat groei. Deel dit met ander.
Gaan loop doelbewus in die natuur waar jy God meer kan ervaar.
So sal jou lewe meer spontaan om die Here begin draai.
Jou hart sal meer en meer met die vreugde gevul word
wat die wêreld nie ken nie,
en wat jy in die wêreld kan gaan uitleef!

Ernest