Die eenvoud van die lewe het plek gemaak vir ‘n komplekse bestaan.
Die vooruitgang van die moderne beskawing het ongelukkig
die sin van die lewe vasgemaak aan uiterlike dinge van die lewe.

In die tyd van die boek Prediker het die mense ook allerhande
maatstawwe gehad waaraan die sin van die lewe gemeet is.
Die skrywer van Prediker het self vir ‘n lang tyd in sy lewe
die een ding na die ander uitprobeer in soeke na die sin van die lewe.
Hy kom tot skokkende ontdekkings:
Hy vertel in Prediker 1:12-18 dat hy die koning van Israel was,
met baie mag. Hy het alles besit, en nogtans was hy nie tevrede
met sy lewe nie. Hy het toe later gedink dat kennis en insig
betekenis aan sy lewe sou gee. Maar hy het ontdek dat ook dit
‘n gejaag na wind is. Akademie is nie lewe opsigself nie.
Hy het ook in hoofstuk 2:15-16 tot die besef gekom dat selfs
die wyse man op die ou end maar net soos die dwaas tot sterwe kom.

Hierna het die prediker ‘n ander koers gekies. As kennis en wysheid
nie sin bring nie, sal die genietings van die lewe dit bring.
Hy het homself aan plesier en feesvierings oorgegee. 2:1-3.
Ook dit het geen geluk gewaarborg nie. Die glansbestaan
was oppervlakkig en sinloos.
Toe besluit hy in desperaatheid om groot geld te maak.
Hy het reuse ondernemings aangepak, sakke vol silwer en goud opgegaar,
en alles gekoop wat sy hart begeer het. 2:4-10. Ook ‘n gejaag na wind.
Hy het besluit dat alles in die lewe tot niks kom nie. 2:17.
Hy gaan sit in sak en as omdat alles wat hy in die wêreld probeer
sleg afloop, en hy haat die lewe. 2:17.

Die sin van die lewe lê nie in die wêreldse dinge rondom ons nie.
Dit is die waarde sisteme van die wêreld wat dan houvas op jou kry.
Miljoene mense lê hierin soos slagoffers stukkend langs die pad.
En ten spyte van die Woord van God wat ons wegroep van so ‘n lewe,
stroom mense steeds sonder ophou hierin voort. Worstel ook die wat
beter weet, soos gelowiges, om hulle daaruit los te wikkel.
Dit vra ‘n toegewyde geloofslewe om nie deur die waardes
van die wêreld ingesluk te word en meegesleur te word nie.
Ons moet stroomop swem, al is dit hoe moeilik.
Saam met Prediker moet ons ontdek dat die sin van die lewe
nie in die dinge van die wêreld lê nie.
Sy konklusie na alles is in Prediker 1:14:
“Ek het alles wat in die wêreld gebeur bekyk:
alles kom tot niks, dit is ‘n gejaag na wind.”

Sit met waagmoed jou hand in God se hand en vind die sin by Hom.

Ernest