Die Prediker het besef dat die wêreld die sin van jou bestaan
al verder van jou af wegskuif, na die wêreld self toe.
In plaas daarvan dat jy dan sin en betekenis vind in die gawes in en by jou,
en die kosbare persone by jou, gaan soek jy dit in die blink uiterlike
van die wêreld. ‘n Sinlose gejaag na wind.
Die Prediker het mooi na die verloop van die lewe gaan kyk,
en iets baie belangrik agtergekom:
die lewe self het nie enige betekenis wat jy soos ‘n stuk goud
moet gaan ontdek, en optel, en nou “het” jy dit en dit is joune nie.
Nee. Jy moet self sin aan jou bestaan hier op aarde gee.
Jy moet so leef dat jou lewe vanself sin begin maak.
Prediker skryf in hoofstuk nege dat jy moet gaan sin skep
uit die alledaagse dinge en persone rondom jou.
Dit help nie om by dit verby te lewe en dit elders te gaan soek nie.
Jy sal jou lewe lank dit “elders” gaan soek.

Gryp jou lewe met beide hande aan en leef dit voluit.
Jy moet iets met die lewe maak,
en nie wag dat die lewe iets met jou maak nie!
Jy moet betekenis aan jou lewe gee, daar waar God dit aan jou
toevertrou het om dit vir Hom te lewe.
Prediker 9:7-9 is baie prakties daaroor:
“Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed;
God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.
Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie.
Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet...”
Die naaste mens en mense waarmee God jou vertrou is só belangrik.
Maak ook vrede met jouself. Voel goed oor jouself as skepping van God.
Moenie arms gevou sit en dink die lewe skuld jou nie.
Maak die beste van die lewe!

Hy skryf ook dat jy met toewyding moet doen wat jy doen,
en doen waarvan jy hou. 9:10 en 11:9.
In dit alles verloor die Prediker nooit vir God uit die oog nie.
God wil hê dat ons die lewe moet geniet, en gee dit as gawe aan ons.
In 11:9-12:1 skryf hy dat ons, in alles wat ons so geniet,
moet onthou dat ons aan God rekenskap moet gee oor ons lewe.
Jy kan nie maar leef soos jy wil nie. Jou lewe behoort uiteindelik aan God.
Verheerlik God met jou lewe!

Ernest