God se seën en God se guns gaan nie net oor my voorspoed nie.
Daar kan ook ‘n verskil wees tussen wat God vir my bedoel,
in terme van sy seën en guns, en wat ek sou wou hê.
Dit is hier waar die voorspoed teologie so maklik kan posvat.
Dat net my voorspoed die maat word waarmee ek God
se seën en guns aan my meet.
Daar is niks daarmee verkeerd om deur God geseën te wil word nie,
om daarna te smag en daarvoor te bid nie,
en om die oorvloedige lewe te wil lewe waarvoor Christus gely het,
om dit vir ons moontlik te maak nie.
Tog kan ons nie vir God benader asof Hy outomaties seën en guns sal gee,
as ons net die regte hoeveelheid gebed, lof, geloof en goeie werke insit nie.
God se gedagtes oor seën en guns aan ons,
is baie hoër as wat ons kan voorstel. Sy guns beteken juis ook sy genade.
Dit beteken ook vreugde, plesier, behae, goedheid,
welwillendheid, en selfs beloning. God se guns is God se goedhartigheid.
Guns is ook God se troue liefde!
Josef ervaar God se guns en beweeg van ‘n tronk na ‘n paleis.
God kan ook jou omstandighede binne een dag omswaai!
Dit gebeur deur God se guns in jou lewe.
Job was nog iemand wat God se guns en seën beleef het.
In Job 10:12 bely hy dit dat sy lewe en die guns wat hy geniet,
gawes van God is: “U het my die lewe gegee en my met liefde versorg,
met sorg het U oor my gewaak.”
Uit Job se lewe is dit duidelik dat ons nie geluk nodig het nie,
ons het God se seën nodig. God se guns. Vir Job is dit eerstens die lewe!
En dan ook God se sorg. En Job het ook God se beskerming geniet!
Matteus 6:33 sê dat ons ons allereers vir die koninkryk van God
moet beywer, en vir die wil van God,
en nie vir wat ons wil hê of wat ons gelukkig maak nie.
Ernest