Om te vra vir God se seën en guns is deel van God se wil vir ons.
Dit is ook ‘n erkenning van ons afhanklikheid van Hom.
Dit is ook ‘n grondbeginsel van ons verhouding met Hom as ons God.
Die Here Jesus sê ook in Matteus 7:7-11 dat ons dit moet doen.
“Vra, en vir julle sal gegee word...want elkeen wat vra, ontvang...
hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is,
goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra.”
Jabes se verhaal bestaan uit net twee verse in 1 Kronieke 4:9-10.
Met ‘n eerbare en suiwer hart vra hy aan die Here om hom te seën.
En God seën hom! Hy bid nie ‘n lang gebed met groot woorde nie.
Net dit: “Stort U seën oor my uit, vergroot my grondgebied,
neem my onder U beskerming en weerhou onheil van my,
sodat geen smart my tref nie.” So eenvoudig. En God gee dit!
Jakob sê vir ‘n man van God dat hy hom net sal los as hy hom seën!
Genesis 32:24-26: “Jakob het alleen daar agtergebly,
en ‘n man het tot dagbreek met hom gestoei.
Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie,
het die man, terwyl hy met hom stoei,
vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het.
Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.”
Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.”
Baie van ons bid een keer, of min kere,
en is dan teleurgesteld in God as Hy nie reageer nie.
Nie Jakob nie. Hy “stoei” met God in die krag van gebed.
En Jakob word geseën. Genesis 32:27-30:
“...jy het teen God en teen mense ‘n stryd gevoer,
en jy het dit enduit volgehou...Hy het vir Jakob net daar geseën,
en Jakob het die plek Pniel genoem, “want” het hy gesê “ek het God
van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.”
Jakob is met ‘n nuwe naam, doel, toekoms en bestemming geseën.
Sy hele identiteit is verander na iemand wat geestelik geseën is,
met die ewige geboortereg van die rykdom van God se koninkryk.
God wil hê dat jy na Hom toe kom om geseën te word.
Hy wil selfs vir jou meer gee as waarvoor jy vra.
Ernest