Ons intimiteit met God berus op ons gehoorsaamheid aan Hom.
As ons nie in gehoorsaamheid na aan God leef nie,
kom daar afstand met God. Uit die Woord en uit ons eie
lewenservaring weet ons dit; wanneer ons ons eie pad stap,
verwyder ons onsself uit die pad van God se seën.
Romeine 6:23 sê: “Die loon wat die sonde gee, is die dood;
die genadegawe wat God gee is die ewige lewe
in Christus Jesus ons Here..”
Die dood is ‘n vloek waarvoor Jesus aan die kruis gesterf het.
Hy het die seën van ‘n oorvloedige lewe uit genade
weer moontlik gemaak. Ontvang hierdie genadegawe, onverdiend,
uit die hand van die Here en leef jou dankbaarheid daarvoor
deur gehoorsaam te wees aan die Here.
Wanneer ons net met die mond bely dat ons glo,
maar ons doen nie wat God ons beveel nie,
is ons nie anders as die duiwels nie.
Want hulle glo ook, maar hulle sidder van angs. Jakobus 2:17-19:
“So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie,
is dit sonder meer dood. Maar iemand kan miskien sê:
“Die een het die geloof en die ander het die dade”.
Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is,
en ek sal jou my geloof wys uit my dade.
Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg.
Die duiwels glo dit ook – en hulle sidder van angs.”
Aktiewe geloof skep gehoorsaamheid,
en gehoorsaamheid skep aktiewe geloof.
Ons leef ons geloofsbelydenis en toewyding aan God uit
wanneer ons kies om aan Hom gehoorsaam te wees.
1 Joh. 5:2-3:
“Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet:
wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou.
Die liefde vir God bestaan dan daarin;
dat ons sy gebooie gehoorsaam...”
Wanneer jy leef in gehoorsaamheid aan God se leiding,
beteken dit dat jy Hom vertrou vir jou hele lewe.
Jy sal jou eerbiedig aan Hom toewy, en Hom navolg.
Om God se seën te ervaar moet jy wys dat Hy die Here
van jou lewe is, en gehoorsaamheid aan Hom wys dit.
Gehoorsaamheid sê: jy vertrou die Here met jou hele lewe,
daarom het jy die Here lief, deur sy Woord in jou hart te dra,
sodat jy nie sonde doen, en so die gevaar loop om God se
guns en seën te verloor nie.
Ernest