Die Bybel leer ons duidelik dat ons geseën word deur die Here,
om vir ander tot seën te wees, en uit wat ons ontvang vir hulle te gee.
Wanneer jy God se seën ontvang moet jy dit ook vir ander gee.
‘n Goeie beeld is die van die Dooie see wat net water ontvang,
en nooit uitgee nie, en so te sout en te giftig geword het om lewe te gee.
God se seën moet deur ons stroom, en lewegewend wees aan ander mense.
In 2 Korintiërs 8:14 -15 sê Paulus dat ons wat oorvloed het,
die moet help wat gebrek ly, sodat niemand tekort sou skiet nie,
en almal geseën sou word.
Van die eerste gemeentes lees ons in Handelinge
“hulle het alles met mekaar gedeel.”
Volgens 2 Korintiërs doen hulle dit vrywillig en blymoedig.
Ons sien dat God se bonatuurlike genade die gewers sowel as
die ontvangers met sy seën omring het,
sodat dit nie ‘n las was om te gee nie,
en die ontvangers ook geseënd genoeg was,
om op hulle beurt weer gewers te word!
Baie mense voel hulle nie bemagtig deur God se guns nie,
want hulle sien nie God se seëninge in hul eie lewe raak nie,
en dan gee hulle ook nie vanuit hul eie oorvloed nie!
Hulle gee deurgaans om te ontvang. Nie uit dankbaarheid nie.
En as jy bloot gee om te ontvang, is jy nie besig om te gee nie,
maar om handel te dryf.
Oor rykdom, en gee vir ander vanuit dit wat ons self het,
kan ons so verskillend dink:
Party is ryk omdat hulle juis nié gee nie, ander is ánders ryk,
juis omdat hulle gee. Dit is nie hulle wat baie het,
wat waarlik ryk is nie, maar hulle wat baie gee.
Uiteindelik seën ons ander mense die meeste deur onsself te gee.
Deur toe te laat dat die Here self deur ons gee, soos Hy wil gee.
Ernest