Sommige gelowiges kan dikwels onwrikbaar op God vertrou,
terwyl ander rondom hulle die handdoek ingooi.
Hoe kan party mense stroomop glo,
terwyl ander reeds in sak en as sit? Wat is die geheim?
Waarskynlik is die belangrikste antwoord van die Bybel dat ons
eenvoudig onwrikbaar in God kan bly glo, as Hy vir ons ‘n groter
werklikheid is as die wêreld met sy probleme rondom ons.

In 2 Konings 6 lees ons hoe Elisa en sy slaaf deur ‘n groot leër
van die Arameërs omsingel is in die stad Dotan. Hoe het dit gebeur?
Elisa waarsku die koning van Israel gereeld waar die vyand gaan
toeslaan en hoe om op te tree. Dit ontstig die vyandige koning
van Aram, en hy begin dink dit is informante uit sy eie leër wat teen
hom werk, en elke keer die inligting deurgee aan die koning van Israel.
Die offisiere vertel die koning van Elisa wat telkens vooruit “sien”
wat gaan gebeur. Die koning van Aram besluit om Elisa te vang.
‘n Strek mag het toe afgegaan na Dotan om dit te doen
en die stad omsingel. Wanneer Elisa se slaaf dit sien vra benoud in
2 Konings 5:15: “Ag, Meneer!...wat gaan ons nou maak?”
Elisa antwoord in vers 16: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is,
is meer as wat hulle is.” Elisa deel nie die slaaf se vrees nie!

Ons kan die arme slaaf van Elisa se vrees verstaan.
Hulle het nie eens ‘n enkele soldaat aan hulle kant nie,
en om die stad is ‘n leër met perde en strydwaens.
Vir Elisa is die oormag nie ‘n probleem nie.
As God by jou is, is jy altyd in die meerderheid.
Die slaaf is egter nie optimisties oor hierdie woorde van Elisa nie,
want aan hulle kant tel hy net twee...
Elisa sien die slaaf glo nie sy woorde nie. En wat doen Elisa?
Hy bid dat die Here sy slaaf se geestelike oë oopmaak, vers 17:
“Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.” Kyk net wat gebeur:
“Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien:
Die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.”
Die oorwig was regtig aan hulle kant!
Weer bid Elisa, en God slaan die Arameërs met blindheid.
Hy neem hulle toe na die koning van Israel wat hulle lewe spaar,
en hulle na hul eie koning terugstuur.

Elisa het die onsienlike gesien!
God is groter as die lewe met sy probleme!
God is ‘n groter werklikheid, as die werklikheid van sy probleme.
Ons staar ons blind teen die realiteite van die lewe en ons probleme.
Ons krimp ineen omdat ons probleme of krisisse vir ons
groter word as God. Ons moet met ons geestelike oë op God fokus.
Dan kan ons stroomop glo, en stroomop leef, en nie net meegesleur
word nie deur dit wat ons “groter as God” sien nie.
Kom ons leef saam met God in sý oormag!
Kom ons “sien” dat die wat by ons is,
veel meer is as die wat by hulle is!

Ernest