In moeilike omstandighede kan ons maklik opgee,
en dink dit is klaar met ons. Dit kan ook maak dat ons
as’t ware net toekyk en hoop die beste sal maar gebeur.
Geloof maak egter dat ons opkyk en “sien”,
God sien in ons omstandighede.
En dan maak geloof dat jy iets aan jou omstandighede doen!
Paulus en Silas sit in uiters moeilike omstandighede in die tronk.
En met boeie aan hulle voete sing hulle lofliedere. Handelinge 16:25:
“Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid,
en tot lof van God te sing. Die ander gevangenis het na hulle geluister.”
As hulle net op hulle self gefokus het, kon hulle seker baie kere
dink waarom hulle so swaar vir hulle geloof moet ly.
Maar hulle sit nie net daar nie. Hulle is besig. Met wat?
Besig om te bid. Besig om tot lof van God te sing.
Kan ‘n mens besiger as dit wees...?
En dit aktiveer ook ander. Die gevangenes sit nie net daar nie,
hulle luister! In aktiewe luister hoor hulle hierdie twee se lof-getuienis,
en hulle gebede! Hulle hoor dit nie net nie. Hulle luister.
En juis hierdie getuienis het hierdie twee manne in die tronk laat beland.
Hulle word in die tronk gegooi om hulle monde toe te kry!
Maar die boeie aan hulle voete is nie swaar genoeg daarvoor nie.
En hulle skrik ook nie vir wat mense aan hulle kan doen nie,
nie eers hier in die tronk nie. Hulle glo stroomop en leef stroomop.
Hulle laat nie toe dat hierdie omstandighede hulle meesleur nie.
Hulle gryp ook hierdie tyd in die tronk aan om op God te fokus,
en nie op hulle self nie. Hulle maak hierdie tyd vol met aanbidding.
Hulle maak dit vol met getuienis waarna mense in die tronk luister.
En kyk na God se reaksie. God skud die fondamente van die tronk,
en laat almal se boeie losgaan, en die tronkdeure oopgaan!
Die tronkbewaarder skrik wakker, dink almal het ontsnap,
en wil homself doodmaak.
Weereens gryp die twee manne die geleentheid aan:
“Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
Later die nag kom sy hele huisgesin tot geloof!
Geloof maak dat ‘n mens iets ín jou omstandighede,
áán jou omstandighede dóén! Geloof is ‘n werkwoord!
Geloof laat jou na God opkyk. Selfs met boeie aan jou voete.
Dat jy die haglikste omstandighede gebruik om te bid,
en lof aan God te bring. En te getuig.
En daardie geleenthede word Goddelike oomblikke,
waar God se genade werk! Ook ander mense kom vry,
en kan leef op die pad wat na die ewige lewe lei.
Ernest