In Numeri 2:17 lees ons:
“Die kamp van die Leviete met die tent van ontmoeting moet
Altyd in die middel van die ander kampe bly wanneer hulle trek.”
Die Israeliete was in hierdie stadium ‘n nomadiese volk,
wat deurgaans getrek het. Hulle moes gaan waar God hulle lei.
Hulle moes besef dat God oral is waar hulle moontlik sou gaan.
Die hele trek van die volk, en al die kampe, was dus gerangskik
rondom die “tent van ontmoeting”, waar God aanbid is,
en wat die simbool was van God se teenwoordigheid.
Die Leviete was verantwoordelik vir hierdie tent van
ontmoeting, wat God se teenwoordigheid bevestig het.
Ons is ook ons hele lewe saam met God op pad.
Ons volg Hom, en as gestuurdes van die Here,
is ons ook saam met Hom deel van sy sending in die wêreld.
Ons hoef nie te vrees vir enige omstandighede,
of bang te wees vir mense nie. God is by ons!
Die Heilige Gees woon in ons!
Ons kan doelbewus in die teenwoordigheid van God leef,
of leef asof Hy nie teenwoordig is nie....
Aan die een kant:
Na die eerste menslike ruimtevaart het die Rus,
Juri Gagarin, ateïsties verklaar dat hy nêrens in
die ruimte die Christene se God gesien het nie.
Aan die ander kant, hierdie getuienis:
“Ek het die klein pakkies wat my leraar saamgegee het,
uitgehaal en die wyn in die bekertjie geskink.
Weens die maan se min swaartekrag,
het die wyn sierlike draaie gemaak.
Toe het ek die broodjie en wyn gebruik,
nadat ek Johannes 15:5 hardop gelees het:
“Ek is die wingerdstok, julle die lote.
Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte,
want sonder My kan julle niks doen nie.”
Dit vertel Buzz Aldrin van die eerste nagmaal,
wat op die maan gevier is, ongeveer 20 Julie 1969.
Hy was ‘n ouderling van die Presbiteriaanse kerk,
maar meer belangrik as dit:
Selfs op die maan was hy bewus van God se teenwoordigheid!
Leef doelbewus in die teenwoordigheid van God.
“Wie in My bly en Ek in Hom, dra baie vrugte...”
God is by ons! Die Heilige Gees woon in ons!
Ernest