Dikwels dink mense dat hulle bydrae
tot enige dienswerk te gering is.
Dan ontmoedig dit hulle selfs om dienswerk te doen.
Hulle besef nie dit is ‘n leuen van die duiwel
om hulle uit rat uit te haal nie. Mense sê dikwels met
humor dat jy nie maklik die hoofbestuurder
van die firma gaan mis as hy of sy afwesig is nie.
Maar laat dit nou net die tee-maker wees,
dan weet almal van die afwesigheid!
Dikwels word mense se werk so vanselfsprekend aanvaar
dat hulle eers raakgesien word as hulle afwesig is! Ironies.
En dan dink mense ook so oor hulle bydrae
in die koninkryk van God. Hulle dink dit is gering.

Die Merari-groep se werk was om die raamwerk van die
tabernakel te versorg, en ook te dra wanneer die volk trek.
“Dit is al die verpligtinge van die Merari-groep in verband
met die tent van ontmoeting.” – Numeri 4:33.
Op die oog af was dit ‘n nederige werk,
maar dink net wat sou gebeur as een van die balke verlore is
wanneer die tent van ontmoeting met die Here weer
aanmekaargesit moet word na ‘n lang trek.
Hulle werk was eintlik baie belangrik,
want hulle het die raamwerk versorg en voorsien waarvan al
die ander afhanklik was vir die oprigting van die tabernakel.

Ons is nie almal op die voorgrond nie.
Die meerderheid van ons is “bloot” deel van die groter prentjie.
Maar is dit nie so waar ten opsigte van almal in die
koninkryk van God nie? Die fokus is op God. Nie op ons nie.
Buitendien is almal vir God ewe belangrik in die dienswerk aan Hom.
Wie laaste is, is eerste in die Here se oog.
Moenie moedeloos word en onttrek omdat jy dink jou
dienswerk vir die Here is “onbeduidend” nie.
Dit is nie die boodskap van die Bybel nie.

Paulus beklemtoon dat geen lid belangriker is as ‘n ander nie.
1 Korintiërs 12:18 en 25:
“Maar nou het God die lede , elkeen van hulle afsonderlik,
in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou...
sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie,
maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra.”
Uiteindelik doen ons alles wat ons doen vir die Here!
Kolossense 3:23: “Wat julle ook al doen,
doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie..”

Ernest