Ons hoor dikwels van iemand wat op ‘n Daniël-vas gaan.
Dit beteken om vir ‘n tydperk baie eenvoudig te eet en te drink,
as deel van ‘n tyd van toewyding en afsondering, en stil raak by die Here.
Mense doen dit dikwels wanneer hulle ‘n groot besluit moet neem.
Ons lees meermale in die Bybel van mense soos
Johannes die Doper, en Paulus, wat hulle ‘n tyd lank
afgesonder het om die wil van die Here te soek.
In Moses se tyd was nasireërskap so ‘n spesiale tyd
van toewyding. Volgens Numeri 6 moes so iemand
alkoholiese drank en alle produkte van die wynstok vermy.
Hy moes ook aanraking met ‘n lyk vermy,
en hy moes sy hare vir die volle tyd laat groei.
Ons lees ook in Numeri 6:18 hoe so iemand sy hare aan die einde
van die nasireërtyd by die tabernakel moes afskeer,
daar by die tent van ontmoeting met die Here.
“By die ingang van die tent van ontmoeting moet die nasireër sy hare,
die teken van sy wyding, afskeer.”
Later in die geskiedenis het vas en gebed behoue gebly
as tye van toewyding.
Baie gelowiges vas en bid vandag nog in tye van toewyding
aan die Here. Calvyn was sterk ten gunste daarvan.
John Wesley het glo geweier om ‘n leraar te orden
as hy nie twee dae per week vas nie!
Vas en gebed is nie om druk op die Here uit te oefen nie,
maar dikwels om selfsug en eie begeertes te oorwin.
Ook om te groei in toewyding aan die Here.
En ook om die Here se leiding te soek en op Hom te fokus
in terme van onderskeiding, in tye van onsekerheid en keuses.
In die Nuwe Testament lees ons in Lukas 2:37 hoe die profetes,
Anna, die Here met toewyding gedien het deur vas en gebed.
In Handelinge 13:2 lees ons hoe geestelike leiers op ‘n keer
bymekaar was, om die Here te dien en om te vas,
en hoe die Heilige Gees hulle dan lei om Barnabas en Saulus
af te sonder om die werk te doen waarvoor die Here
hulle geroep het.
Ons moenie voorskriftelik wees aan mekaar ten opsigte
van toewyding aan die Here nie.
Ons moet veral nie onsself as norm gebruik en sê
ander moet dit doen “soos ek”, of soos my groep dit doen nie.
Ons moet wel vra: Hoe kan ek so ‘n tyd van toewyding hou?
Hoe kan ek stil raak en tyd saam met die Here deurbring,
om in toewyding aan Hom te groei?
Die Here vra toewyding, en nie dat ons aan mekaar moet
voorskryf presies hoe nie.
Hoe wil en gaan jy dit doen?
Dit is ‘n besondere tyd van groei in die Here.
Ernest