Numeri 7:89 sê: “So het die Here met Moses gepraat.”
Inligtingstegnologie het die wêreld oorgeneem!
Binne tien jaar nadat ‘n student Facebook in ‘n koshuis kamer
begin het, gebruik meer as 1,25 miljard mense hierdie diens!
In baie dele van die wêreld het selfone die algemene
kommunikasiemiddel geword. Indien nie byna alle dele nie!
Landlyn fone is besig om te verdwyn weens diefstal van koperkabels.
Papier briewe is byna ongewoon. E-pos, BBM, Whatsapp, Twitter,
en SMS’e het dit vervang. Mense lees amper nie meer boeke nie,
al weet ons hoe kosbaar dit is.

En tog, met al hierdie kommunikasiemiddels,
wil ons dink dat Moses se kommunikasie met God beter was.
“Sy verhouding met die Here was so direk soos ‘n interkom”, sê iemand.
Hy kon duideliker hoor en verstaan wat die Here vir hom sê.
Hy het dit vasgelê en dit is van geslag tot geslag oorgedra,
en ons lees dit vandag nog! En nog in ons moedertaal ook.

Hoewel ons so maklik met mekaar en die Here kan kommunikeer,
en met vrymoedigheid na sy genadetroon kan gaan,
is dit asof ons die Here so min hoor, of so onduidelik, of so min verstaan.
Moontlik ly ons soveel aan ‘n inligtings-oorlading,
dat dit net nóg inligting is! En so het ons nie meer tyd nie,
en beleef nie intieme persoonlike ontmoetings met die lewende God nie.
Daarom moet ons meer met toewyding en in afsondering
in die teenwoordigheid van die Here kom.

Thomas ‘A Kempis het gesê:
“Gelukkig is die ore wat die sagte geruis van God se fluisterstem opvang,
en later niks meer opmerk van die gegons van die wêreld rondom hulle nie.”
Treffend het Karl Rahner gesê:
“Gebed is om in stilte by God te wees net soos ek is.
‘n Mens kan dit ‘n ontmoeting met stilte noem,
die stilte van God wat op my wag. Noem dit gebed. Noem dit die lewe.”
Raak stil by die Here...en hóór...hoor hoe Hy met jou praat.

Ernest