“Jy moet die Leviete nader bring voor My, die Here,
en daar moet die Israeliete hulle hande op die Leviete lê.”
– Numeri 8:10.
Die Leviete was die plaasvervangers, of gestuurdes van die volk,
wat diens moes doen met en by die tabernakel.
Hulle moes die tabernakel, en later die tempel,
se gereedskap versorg en ook ver dra as die volk
trek i.t.v. die tabernakel. Hulle moes ook namens die volk
die Here dien in en by die tabernakel.
By die plegtigheid waarvan Numeri 8:10 praat,
moes elke Israeliet sy hande op ‘n Leviet lê,
as simbool dat hy die Leviet die opdrag gee om
in sy plek die Here by die tabernakel te dien.
Ons weet vir eeue lank is leraars en sendelinge ook afgesonder
en uitgestuur om voltyds die werk van die Here te doen.
Dit het ongelukkig by baie gelowiges die idee laat ontstaan dat
hierdie persone dit namens hulle doen, en dat hulle nie self
hierdie werk vir die Here hoef te doen nie.
Die leraars en sendelinge is die gestuurdes.
Gelukkig het die kerk van die Here dit weer in ons tyd
nuut ontdek dat ons almal gestuurdes van die Here is!
Andrew Murray het by geleentheid gesê dat elke mens
wat gedoop word, as sendeling gedoop word,
en God se gestuurde in die wêreld is.
Ons word gedoop in die Naam van die Vader,
wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy Seun gestuur het.
En ook in die Naam van die Seun wat ons die groot opdrag gegee het,
dat Hy ons stuur soos die Vader Hom gestuur het,
om die evangelie uit te dra en God se verteenwoordigers te wees.
En ook in die Naam van die Heilige Gees,
wat ons sy getuies in die wêreld maak wanneer Hy in ons kom woon.
Verder word ons aan die einde van elke erediens, in die Naam van die Vader,
en die Seun, en die Heilige Gees met die seën van God drie-enig uitgestuur,
en toegerus, om God se gestuurdes in die wêreld te gaan wees!
Inderdaad sê Paulus in Romeine 12:1-2 dat die wesentlike van die Godsdiens
nie is om ander te stuur nie, maar jouself te gee as lewende en heilige offer!
God sit sy hand op jou...en stuur jou!
Ernest