Aftrede vir gestuurdes van die Here?
Iemand sê hy lees van net een persoon in die Bybel wat wou aftree.
Dit was die ryk dwaas. Ons lees iets interessant in Numeri 8:25:
“As ‘n Leviet egter vyftig jaar oud is, moet hy sy amp neerlê
en mag hy nie verder dien nie.”
Vir baie mense klink dit soos musiek in die ore. Aftrede!
“Nou kan hulle iemand anders in my plek kies, dat ek kan gaan rus”.
Ons hoor dit dikwels by mense wat spesifieke dienswerk verrig,
en as’t ware dink dat hulle verplig is om dit te doen.
En nou soek hulle ‘n breuk “om te gaan rus”. Die belangrike is:
Nou gaan dien jy net die Here meer voluit op ‘n ander terrein.
Jy gaan “rus” nie van die roeping en dien van die Here nie.
As gestuurde bly jy gestuurde van die Here, lewenslank.
Die Leviete moes ook net die amp neerlê, om nou iets anders met
toewyding vir die Here te gaan doen. Nie om te “rus” nie.

En buitendien is ons nie Leviete nie.
Die Here het ‘n bepaalde rede en doel met hulle gehad.
Hulle moes vrygestel word van hulle diens,
sodat hulle vir hulle kinders en kleinkinders kon sorg.
Die Leviete het blykbaar baie hard gewerk,
die tempel gereedskap kilometers gedra,
en die swaar werk gedoen om die tabernakel op te slaan,
sowel as hulle eie kampplek.
Die Here het hierdie reël blykbaar uit sorgsaamheid ingestel.
En dit het ook net spesifiek vir die Leviete gegeld.

Moses het met sy “eintlike” werk vir die Here begin toe hy
al tagtig was, en daarmee volgehou tot honderd en twintig.
‘n Gestuurde van die Here tree nooit af nie!
‘n Kind van die Here het ‘n lewenslange roeping en taak,
as gestuurde van die Here.
Ons tree nie af in ons “werk” vir die Here nie. Ons dien die Here!
Ons werk nie vir die Here nie.
Frederick Buechner het dit treffend so gesê ten opsigte van
‘n gestuurde van die Here te wees en lewenslank te dien:
“Die plek of die dien van die Here waarheen die Here jou roep,
is die plek waar jou diepste blydskap en die wêreld
se diepste behoeftes en nood bymekaar uitkom.”

Ernest