Ons kan nie God aanbid en dien soos ons wil nie.
Ons moet Hom aanbid en dien soos Hy dit wil.
In die boek Numeri sien ons ‘n paar voorbeelde.
Numeri 9:23 sê:
“Op die bevel van die Here het hulle kamp opgeslaan,
en op sy bevel het hulle weggetrek.”
Die wolk van die Here se teenwoordigheid het op die
tabernakel gerus wanneer hulle moes bly,
en die wolk het beweeg wanneer hulle moes trek.
Die volk het elke oggend eers na die wolk gekyk,
om te sien of hulle moet bly, of moet pak en trek.
Soms het hulle ‘n nag gebly, en ander kere vir jare.
Maar hulle was gehoorsaam, en het dat die Here
hulle deur die wolk lei. Hulle het nie elkeen gemaak
soos hy wou nie. Die Here lei ons vandag nog,
deur sy Woord en Gees.
Indien ons naby aan die Here leef, en ons oog op
Hom gevestig hou, kán ons Hom volg, soos Hy dit wil!
God vra ook orde. Numeri 10:13:
“Hulle het begin trek op bevel van die Here, deur Moses”
Moses was nie regtig die leier van die Israeliete nie. Die Here was.
Die Here het die volk in stamme georden,
en hulle moes op spesifieke plekke rondom die tabernakel
kamp opslaan. Dit was ‘n groot trek om te beheer.
Om nie chaos af te gee nie, gee die Here self orde.
Hulle het ordelik getrek, sodat die tabernakel reeds op die nuwe
staanplek opgeslaan kon wees, teen die tyd dat die Kehatiete
met die gereedskap daar opgedaag het. God is ‘n God van orde.
Ook in die Nuwe Testament lees ons ook die voorskrifte van
Paulus aan Timoteus oor die orde in die gemeente,
en dan lees ons in 1 Timoteus 3:15 dat Timoteus dan sal weet
“hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God,
dit is die gemeente van die lewende God.”
Paulus skryf ook aan die Kolossense in 2:5 dat hy bly is
“om te sien dat julle die goeie orde handhaaf,
en dat julle geloof in Christus stewig vas staan.”
Nog ‘n kenmerk daarvan dat ons God dien soos Hy dit wil,
is in Numeri 11. Die Here het sewentig manne uit die
verskillende stamme uitgesoek om Moses by te staan,
en verantwoordelikheid te help dra.
Die Here werk vandag nog so in sy gemeente.
Mense word deur Hom geroep, toegerus en aangewend
vir bepaalde dienswerk. En die Here bewerk selfs eenheid
tussen hierdie mense! Hoe?
Vers 29 sê die Here se antwoord was om hulle met die
Heilige Gees te vervul.
Dit alles doen die Here om mense te lei en te help,
om die Here te dien soos Hy dit wil.
Dien die Here volgens sý wil, nie soos jý wil nie.
Ons is ook deur die Gees vervul.
Dien die Here deur die Gees wat jou lei,
in die waarheid van die Woord.
Ernest