Hebreërs 10:24 sê:
“Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar
aan te spoor tot liefde en goeie dade.”
Die wêreld gaan as’t ware voor ons oop wanneer
ons Jesus Christus as Verlosser en Here aanvaar het, en volg.
Ons leef in ‘n nuwe verhouding tot mense en die skepping.
Die Heilige Gees woon in ons en lei ons in die waarheid.
Die Heilige Gees gee ons onderskeidingsvermoë,
oor waarop dit regtig aankom, en wat God deur ons wil doen.
Ons is verder deel van die liggaam van Christus in die wêreld.
Ons is nou sy hande, stem, voete, ore en oë.
Ons sit die werk van die Here voort in die wêreld. Hy deur ons!
Ons is geroep om sy koninkryk oral te laat kom waar ons leef.
Die Here leer ons ook om daarvoor te bid.
Ons is sy gestuurdes met sy outoriteit!
Ons het daarom ‘n groot verantwoordelikheid as sout,
lig en suurdeeg in hierdie wêreld.
Ons kan nie eenkant kerk wees in die wêreld nie.
Ons moet orals lig bring, sout wees wat smaak gee,
en bederf teëwerk, suurdeeg wat beïnvloed,
oortuig en motiveer ter wille van God se koninkryk.
Ons probeer nie wegkom of ontvlug uit die wêreld omdat dit
te warm of te koud raak nie. Ons skuil nie in ‘n geestelike
“bunker” totdat die Here ons kom haal nie.
Juis in die wêreld, waar dit brand,
of waar mense geestelik verkluim,
juis daar kom God se genade en liefde deur ons.
Ons is gered om saam met die Here daar te beweeg,
en deel te wees van wat Hy daar doen.
Daar word ons soos kwaliteit sout uitgestrooi.
Kerkwees is daarwees!
Dit is om te leef en te werk en te speel tussen mense,
mense wat Jesus nie ken nie.
Ons doen dit met liefde en die evangelie in ons harte.
Met integriteit is ons God se gestuurdes!
Ernest