Ester 14:4:
“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie...”
Die regte oomblik vir ‘n spesifieke saak breek aan. Wat gaan jy doen?
Ester se oom, Mordegai, kom pleit by haar:
“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie
dat jy koningin geword het!”
In sulke “regte” tye vertrou God ons, met sy saak, sy koninkryk.
Juis met die oog op sulke tye wil Hy ons gebruik om daar en dan
vir Hom ‘n verskil te maak.

Die geskiedenis is vol van mense wat dit gedoen het.
Die wêreld het verander omdat God Martin Luther oortuig het.
Hy het gaan staan en sê: “Ek gaan in opstand kom teen die kerk.”

Die wêreld het verander omdat Noag na God geluister het,
en ‘n ark gebou het, al het dit hoe belaglik geklink vir die mense.

Die wêreld is op sy kop gekeer toe Maria deel geword het van God
se reddingsdaad, deur die maagdelike geboorte van die Here Jesus.
Sy het haarself tot God se beskikking gestel vir sy Goddelike doel.
Dit klink menslik gesproke nog meer onmoontlik as Noag en die ark.

God het die gloeilamp geskep omdat Thomas Edison aangehou het,
na hoeveel mislukkings. God gaan voort met jou ondanks jou mislukkings.

Al hierdie mense was gewone mense! Soos ons!
God doen dieselfde deur jou.
Moenie klein dink oor wat God besig is om deur jou te doen nie.
Hy gee nie verslag aan jou nie. Jy het nie ‘n idee nie...!
Jy sal eendag jou hande saamslaan,
as jy dit “van aangesig tot aangesig sien”.

Moenie die geleentheid mis nie.
In 1917 het die kommunistiese rewolusie in Rusland uitgebreek.
Toe God die kerk wou gebruik was hulle te besig vir Hom.
Waarmee? Hulle was besig om te vergader oor watter kleur
die tossels van die priesters se kleed moes wees!
Hulle het die oomblik gemis,
waar hulle moes intree ter wille van God se koninkryk.
Moenie jou oomblikke mis nie!
Gaan groot!

Ernest