Die Boodskap vertaal Ester 4:14 so:
“As jy in ‘n krisistyd soos hierdie stilbly,
kom daar dalk van ‘n ander kant af hulp vir die Jode.
Dan sal jy en jou familie as verraaiers beskou word.”
Dit sou nie aan Ester se persoonlike omstandighede verander het nie.
Sy sou steeds gemaklik aan die sy van die koning geleef het.
Maar sy het nie aan haarself gedink in die oomblik nie,
maar aan God se wil en aan die volk.
‘n Interessante verwerking van Ester 4:14 lees so:
“Maak jou oë oop, of is jy dalk blind?
Dis vir so ‘n tyd dat God jou koningin gemaak het. Kop jy dit?”
William Tyndale het geleef in Engeland van 1494 tot 1536.
Vir hom was dit baie belangrik dat elkeen die Bybel
in sy eie taal moes kon lees. In hierdie geval Engels.
Hy het begin om die Bybel uit Grieks en Hebreeus na Engels te vertaal.
Die kerk en die koning het gedreig om hom op die brandstapel
te verbrand omdat dit ontoelaatbaar was!
Net die priesters mag die Bybel lees en bestudeer, en net in Latyn.
In dieselfde tyd is sewe mense op die brandstapel verbrand,
omdat hulle hul kinders geleer het om die “Onse Vader”
en “Tien Gebooie” in Engels op te sê!
Tyndale het na Duitsland uitgewyk en daar die vertaling gedoen.
Afskrifte van die Nuwe Testament is na Engeland gesmokkel en versprei.
Die Roomse kerk wou Tyndale doodmaak!
Hulle het hom uiteindelik in die hande gekry en in die tronk gegooi.
In Oktober 1536 het hy op die brandstapel gesterf.
Tyndale het, soos Ester, die geleentheid vir God aangegryp.
Wanneer mense hom gewaarsku het, het hy gesê:
“Dit is God se wil dat ek in hierdie tyd die Bybel in Engels moet vertaal.
Ek doen die werk wat God my vir hierdie tyd gegee het.”
Soos Ester 4:14 sê: “...juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie...”
Mag ons ook, soos Ester en Tyndale, in moeilike tye en keuses vasstaan,
om te doen wat die Here wil hê ons moet doen!
Onthou Filippense 4 wat belowe dat jy tot alles in staat is,
deur Hom wat jou krag gee.
Staan vas en doen wat jy in ‘n tyd soos hierdie moet doen!
Ernest