Die Woord van God leer ons dat sy wil onveranderlik is.
Maar dit geld nie God se planne nie.
Die Nuwe Testament leer ons van God se nuwe testament.
En dit sê presies wat dit is:
‘n Nuwe testament wat sy ou testament vervang.
In die Nuwe Testament word God se wil
glashelder geopenbaar in Christus.
Ons moet God se wil direk met Christus verbind.
Wanneer ons dit nie doen nie, vra ons die meeste van
die tyd die verkeerde vrae ten opsigte van God se wil.
Hierdie vrae het dan meestal te make met ons
eie persoonlike omstandighede en is baie selfgerig.
“Kan God se wil verander ten opsigte van my omstandighede?”
“Kan God se wil verander ten opsigte van hierdie omstandighede?”
Belangrik: Vanuit Nuwe-Testamentiese perspektief,
en vanuit die Persoon van Christus besien, is die antwoord: Nee.
God het net een wil, soos in Christus geopenbaar.
Dit kan saamgevat word met Johannes 6:38-40:
“Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie,
maar die wil van Hom wat My gestuur het.
En dit is die wil van Hom wat My gestuur het:
dat Ek van almal wat Hy My gegee het,
nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die
laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Dit is die wil van my Vader:
dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê;
en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”
Hierdie wil van God is nie vervangbaar of veranderbaar nie.
God sal nooit ooit teruggaan op Jesus se waarborg
in Johannes 10:28-30 nie: “Ek gee hulle die ewige lewe,
en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie.
Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal,
en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.
Ek en die Vader is een.”
Niks of niemand kan ons uit God se genade-greep losruk nie.
Tog kan God se planne verander!
Hy kan sy planne verander ooreenkomstig sy wil.
Hy kan mense se sterfdatums aanpas, soos met Hiskia in Jesaja 38.
Hy kan ‘n ganse stad, wat net 40 dae se bestaan oor het,
nuut laat begin, soos met die geskiedenis van Nineve in Jona 3 en 4.
God is nog besig om planne te maak, soos wat Hy vir Jeremia sê in Jeremia 18.
En God maak ons selfs deel van sy planne, laat ons toe om daarop in te speel.
God se veranderlike planne is egter altyd en oral ondergeskik
en in lyn met sy wil.
Wat ‘n wonderlike en almagtige God dien ons!
Ernest