Ons praat so maklik oor God en sy wil,
asof ons dit onder begrip het.
Ons het al baie keer begrippe gehoor soos:
God is almagtig, alomteenwoordig, alwetend...
Eintlik verstaan ons so min hiervan...regtig.
Dit laat ons maklik dink dat God doen net wat Hy wil,
wanneer Hy wil, en soos Hy wil.
God se almag is nie eenvoudig daaraan gelyk soos
ons poog om daaroor te dink nie.
Die Bybel maak dit vir ons duidelik dat God nooit onbeweeglik en
onaangeraak op sy troon sit, en ons soos marionette beheer nie.
Hy maak nie al sy planne in die ewigheid kant en klaar,
en dan is Hy self onderhewig aan sy planne nie.
Wanneer ons sê God is alwetend, dan is sy vooruit-kennis
ook nie gelyk aan onveranderlike voorkennis nie.
God is aan niks onderhewig nie. Niks bepaal wat God “moet” doen nie.
Selfs nie sy almag en alwetendheid kan bepaal hoe God moet optree nie.
Daar is niks waaraan God nie iets kan doen nie.
Daarom vra ons dikwels “verkeerde” vrae aan God.
Asof sy almag, alwetendheid, alomteenwoordigheid...
moet bepaal hoe Hy móét optree.

Wanneer ons sê dat God se wese sy wil bepaal,
dan weet ons die Bybel leer ons: God se wese is liefde!
“Ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.
God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.”
1 Johannes 4:16.
Omdat God in sy wese liefde is, is sy almag nooit robot-agtig nie.
Sy alwetendheid is ook nie klinies en koud nie.
God is in sy liefde warm en verhoudingsmatig.
Al God se eienskappe, soos sy almag, alwetendheid,
alomteenwoordigheid, ja, al sy eienskappe,
word bepaal deur sy wese, naamlik liefde. Om lief te hê!
Om genadig te wees. Om te vergeef. Om te red.
Om goed en barmhartig te wees. Vir sy hele skepping.
Ons moet weet dat God se wese liefde is,
om iets te probeer verstaan van sy eienskappe.
Anders dink ons aan God as ‘n statiese God.
God is inderdaad nie ‘n statiese God wat onderwerp is
aan enige eienskap van Hom, of enige iets wat Hy geskep het nie.

Hoe kan ons ooit probeer om God “onder woorde” te bring?
Hoe kan ons ooit probeer om God “onder ons begrip” te bring”?
Aanbid eenvoudig die lewende God.
Volg die Here Jesus, in Wie God Hom openbaar, en wat die pad aandui.
Leef voluit, onder leiding van die Heilige Gees,
wat in jou kom woon en jou lei in die waarheid.

Ernest