God se wil het met die vorming van ons karakter te doen.
Baie mense dink God het ‘n baie spesifieke beroep
vir elkeen van ons in gedagte.
En ook ‘n baie spesifieke blyplek.
‘n Baie spesifieke stad in ‘n bepaalde land.
Veel belangriker, as watter spesifieke werk ons doen,
is hoé ons werk.
En veel belangriker as waar ons bly, is hoé ons daar leef.
Ons het dikwels ‘n bloudruk idee van God se wil vir ons.
En dan sit ons as’t ware daarmee “opgeskeep”,
en wonder ons ons lewe lank of ons nou presies is
waar God ons wil hê, en presies doen wat Hy wil hê.
En dit het dan meer te doen met ons spesifieke omstandighede,
in plaas van God se wil vir ons lewe en hoé ons lééf.

God se een en enigste wil is dat ons almal Jesus moet navolg!
Paulus beskryf dit so in 1 Tessalonisense 5:23:
“Mag God, wat vrede gee,
julle volkome aan Hom toegewyd maak,
en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam,
so bewaar dat julle onberispelik sal wees
wanneer ons Here Jesus Christus weer kom.”
God se wil is dat jy meer en meer die beeld van Jesus sal vertoon.
Sy een roeping vir ons almal is dat ons heilig leef.
Sy wil is dat ons daar waar ons werk, bly en leef,
sy Naam verheerlik in ons navolging van Jesus.
Sy wil is dat ons Jesus moet liefhê, God en ander mense dien,
en met vreugde en dankbaarheid lewe.
Vir God gaan dit daaroor dat ons ‘n heilige karakter sal hê,
dat ons sal leef met integriteit, dankbaar en vol vreugde.
Onberispelik wanneer ons Here Jesus weer kom.
Dit is God se wil vir ons.

Ernest