Ons ken almal die bekende beeld van Christus wat by
die deur van jou lewe staan en klop om in te kom.
Openbaring 3:20: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop.
As iemand My stem hoor en die deur oopmaak
sal Ek by hom ingaan en saam met hom feesmaal hou,
en hy saam met my.”
Die beeld is so bekend dat dit die gevaar loop om
sy appél op ons te verloor.
Christus word dan ook dikwels as die geduldige voorgestel,
wat nooit toegang sal afdwing om in ons lewe in te kom nie.
Ons moet egter onthou dat Christus, met eerbied gesê,
nie as ‘n bedelaar en “hoed in die hand” na ons toe kom nie.
Hy kom as Here!...wat bo almal en alles die reg van toegang
tot jou lewe het. God-Drie-Enig het jou immers geskep,
in Christus duur vir jou betaal aan die kruis,
en wil jou in Hom herskep deur die Gees.
Christus kom nie as ‘n opsionele ekstra na jou lewe toe nie.
Hy kom as die Een wat jou lewe sal transformeer
indien jy Hom toelaat om dit te doen.

Volgens die wil van God is dít daarom die belangrikste ding
wat jy met jou lewe kan doen: Om Christus in jou lewe toe te laat.
Dit is ‘n daad van geloof. Dit aanvaar alles wat die aanneming
van Christus as Verlosser en Herskepper in jou lewe inhou!
Wanneer die lewende Christus besit neem van jou denke en emosies,
van jou hele lewe, ervaar jy totale transformasie.
Dit is verseker nie kosmeties nie!
Nou word jou totale lewe deur Christus beheer.
Al maak jy foute, en doen sonde, en stel die Here teleur,
sal Hy jou nooit ooit verlaat nie.
Hy sal voortgaan om sy werk van genesing en herstel te doen,
sodat jy ‘n selfs dieper ondervinding van Hom in jou lewe sal ervaar.
Sy inwonende teenwoordigheid in jou lewe,
sal net ‘n nog groter realiteit vir jou word, elke dag van jou lewe!
Dit is inderdaad genade, onbegryplik groot!

C. S. Lewis het gesê: “Sover ons weet,
kos dit God niks om goeie en mooi dinge te skep nie,
maar om opstandige mense te verander, het sy Seun se lewe gekos!”
Daarom bid Paulus ook dat Christus deur die geloof in ons harte sal woon,
en dat ons in die liefde gewortel en gegrondves sal wees – Efesiërs 3:17.

Ernest