God se wil is dat jy jou totale lewe vir die Here moet gee.
En daarmee saam is sy wil dat jy deurgaans
sal groei in jou verhouding met God.
2 Petrus 3:18 stel dit so:
“Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade,
en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”
Wedergeboorte en bekering, en om tot geloof in God te kom,
kan op verskillende maniere plaasvind.
Soos met Paulus, kan dit dramaties gebeur,
soos op die Damaskus pad.
Of dit kan ook, soos met Timoteus wees,
waar geestelike vernuwing geleidelik plaasgevind het,
en waarin sy moeder en ouma ‘n groot rol gespeel het.
Hoe dit ook al gebeur,
dit word deur die Heilige Gees bewerk soos Hy dit wil,
en is daarom ewe geloofwaardig.
Dit gaan nie oor ‘n datum en tyd van bekering nie,
maar oor die transformasie in Christus, deur die Heilige Gees,
soos Hy dit wil met elke mens.
Dit gaan oor liefde vir God bo alles, en jou naaste soos jouself,
en ‘n lewe van toewyding aan God.
Ware Christenskap is nou ‘n voortdurende proses van groei,
om in Christus al hoe meer sy beeld te vertoon.
Dit is nie altyd moontlik om presies vas te stel waar die groei
begin het nie, en hoe dit presies gebeur nie,
maar die Heilige Gees laat groei en dit is sigbaar in ons lewens.
Ons dra die vrug van die Gees waarvan Galasiërs 5:22-23 praat:
“Die vrug van die Gees...is liefde, vreugde vrede, geduld,
vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
nederigheid en selfbeheersing.”
Die belangrikste van God se wil in jou lewe,
is dat Jesus Christus erken moet word as Verlosser en Here,
en dat ons Hom moet volg met ons totale lewe.
Wanneer dit gebeur is geestelike groei onvermydelik.
Dit is deel van jou lewe, want ons lewe dan deur die Gees,
en die Gees bepaal ons gedrag – Galasiërs 5:25.
Christus roep ons tot oorvloedige lewe.
Oorvloedige lewe, en groei in en deur die Heilige Gees!
Thomas Watson het gesê: “Hoe meer ons groei in genade,
hoe meer sal ons floreer in heerlikheid.”
Ernest