God is as Almagtige God die Opperbevelhebber!
Ons ken die geskiedenis van bekende bevelvoerders soos
Napoleon, Wellington, Eisenhower en nog ander.
Bekend vir uitstaande leierskap en skerpsinnigheid.
Manskappe was lojaal aan hulle en het hulle toegewyd gevolg.
Jeremia praat van, en erken God as almagtige oor alle ander gode.
“...ek was bly daaroor dat U Naam oor my uitgeroep is,
Here, almagtige God” – Jer. 15:16.
Dikwels gebruik hy die Naam : “Here, almagtige God.”
Die naam is van militêre oorsprong en is vertaal met:
“Die Here van die leërskare”. “Leërskare” was soldate.
Vandag nog word in oorloë een generaal oor al die ander aangestel,
en hy staan dan bekend as die “opperbevelhebber”.
Vir Jeremia was die God van Israel die Opperbevelhebber!
Hy het homself volledig aan hierdie Opperbevelhebber onderwerp.
Hy het geroem daaroor dat hy aan die Here behoort en aan sy kant veg.
Want God was nie net die Opperbevelhebber van Israel nie,
maar van alle mense en alle volke oor die hele aarde heen.
Vandag nog het mense ‘n vrye keuse om te kies aan wie hulle wil behoort,
wie hulle wil volg, en aan wie se kant hulle wil veg. Al is dit net jyself.
Jy kan kies om aan ‘n mindere god te behoort. Al is dit net jyself.
En al kies jy uiteindelik net jouself, en is jy net met jouself,
of enige ander mindere god tevrede, moet jy weet:
jy is volledig aan die verloorkant.
As jy dit nie nou dink nie, of wil glo nie, sal jy dit wel later uitvind.
Kies nou die Opperbevelhebber van alle tye, vir tyd en ewigheid!
Sy strategie is van ewigheid af. Sy oorwinning is reeds behaal. Hy heers!
Van altyd af, en tot in ewigheid. En sy leër is ook triomfantlik!
Die vyand skrik Hom of sy leër hoegenaamd nie af nie!
Sy leër is oor die hele wêreld versprei. Sy toegewyde kinders!
En ook in die geestelike sfeer is ‘n leërskare
van onsigbare stryders wat Hom dien!
Sy saak is regverdig. Sy wapen is liefde. Sy offer is genade.
Sy oorwinning is reeds behaal en verseker!
Die belangrikste veldslag waarin jy ooit kan wees is die een van jou siel!
Hierdie veldslag is reeds vir jou gestry. Kies God! Kies oorwinning!
En wees soos Jeremia bly!....in Jeremia 15:16:
“bly daaroor dat U Naam oor my uitgeroep is, Here, almagtige God.”
Ernest