God louter ons en suiwer ons
Maleagi 3:3:
“Soos iemand wat silwer smelt en suiwer,
so sal Hy as regter gaan sit om ons te suiwer,
om ons te louter soos goud en silwer...”
‘n Silwersmid verduidelik die proses van silwer smelt.
Op die vraag waar hyself gedurende die hele proses is,
vertel hy dat hy heeltyd noukeurig en met aandag betrokke is.
Hy moet die hele tyd by die oond sit,
en sy oog met aandag op alles hou,
anders “brand” die silwer en raak dit beskadig wanneer
dit te lank in die oond bly.
In die lig van bogenoemde vers uit Maleagi,
laat dit ons dink aan God wat in ons werk, voortdurend besig,
met sy loutering proses.
In die suiwering van sy kinders sit God by ons.
Hy laat ons nie alleen.
Hy sorg dat die silwer nie beskadig nie.
Die silwersmid vertel verder dat die suiweringsproses nie
voltooi is alvorens hy sy eie gesig in die silwer kan sien nie.
Die suiwerings proses is eers voltooi wanneer
Jesus sy beeld in ons kan sien.
Dit is ‘n voortdurende proses van loutering,
waarin die Here ons suiwer,
om ons karakter te bou,
om sy beeld te vertoon.
Ernest