Om net die Woord van God met armes te deel,
is maar ‘n deel van wat ons roeping ten opsigte van die armes is.
Wanneer Jesus op die sabbatdag na die sinagoge gaan,
in Lukas 4:16, dan word die boek van die profeet Jesaja
aan Hom gegee om uit te lees.
En Jesus kies die deel van Jesaja 61,
wat praat oor die armes, gevangenes, blindes, onderdruktes...
Lukas 4:18: “Die Gees van die Here is op My,
omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig.”

Ook jy is deur God aan jou omgewing waar jy leef gegee,
om daar ‘n verskil in die Naam van die Here te maak.
Nie net om die Woord te lees nie, maar ook die Woord te gaan wees!
En jy kan maar net dink aan wat die Here met die
vyf brode en twee vissies gemaak het in Johannes 6.

Wêreldwyd sug die skepping van God onder honger. Arm mense.
Wêreld statistieke oor armoede is skrikwekkend:
100 000 000 mense het geen dak oor hulle kop nie!
770 000 000 mense het nie genoeg kos om ‘n aktiewe
werkslewe aan die gang te hou nie.
500 000 000 mense ly aan bloedarmoede as gevolg van ‘n yster tekort.
300 000 000 mense het nie skoon water om te drink nie.
800 000 000 mense lewe in absolute armoede. Hulle is nie nét arm nie.
Hulle is geensins in staat om aan die absolute
minimum behoeftes te voldoen nie. Hulle is skrikwekkend arm!
880 000 000 volwassenes kan nie lees of skryf nie.
Hulle word hoofsaaklik deur armoede uit die skool gehou.
10 000 000 babas word elke jaar met wanvoeding gebore.
14 000 000 kinders sterf elke jaar aan honger verwante siektes.

Wanneer ons hieroor gesels en nadink,
hoor ‘n mens dikwels die vraag: “Wie se skuld is dit?”
dikwels ook veroordelend. “Is dit nou ons skuld?” Om watter rede ook al.
Ons moet egter onthou dat dit nie die vraag is nie.
Wanneer die Here ons voor mense laat staan, of dit nou op papier is,
of in lewende lywe, dan gaan dit nie daaroor om vrae te vra nie,
maar om iets in die Naam van die Here te doen!

In die lig hiervan moet ons onthou dat Matteus 25:40
vandag nog vir ons geld:
“Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie
broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
Jesus kom nog steeds daagliks in die vorm van arm mense na ons toe.
Jesus woon ook in daardie mense,
en daarom maak Hy dit so persoonlik in die teksvers:
“...aan My gedoen.”

Oor Lukas 9:58, dat die jakkalse gate het, en die voëls neste,
maar die Seun van die mens het nie eers ‘n rusplek vir sy kop nie,
het daar eenkeer in die New York Times ‘n advertensie verskyn:
“How can you worship a homeless Man on Sunday,
and ignore one on Monday?”
Help die arm mens vóór jou! Jesus stuur hom na jóú!

Ernest