Phil Collins sing ‘n treffende lied van ‘n ryk man
wat verby ‘n arm vrou met blase aan haar voete stap,
terwyl sy op straat pleit om hulp.
Fluit fluit loop hy verby en hoop om gou van haar oë, pleitende oë,
op sy rug te vergeet. “Think twice...” sing hy. Gaan luister die lied!
Jy stap verby ‘n Jesus mens...en ‘n Jesus geleentheid.
Op ‘n wintersdag het ‘n dogtertjie op straat gebedel.
Vir kos, geld, of wat ookal. Wat maak dit saak. Die man wat alles het,
het verbygeloop. Na sy warm huis, en warm bord kos en drank.
Haastig om uit die koue se kloue te ontsnap.
Saam met sy familie om die tafel, het hy dankie gesê vir hul seëninge.
Terwyl hy eet het hy bly dink aan die arm dogterjie in die koue straat.
Voor die warm kaggel het hy met God hieroor begin worstel,
oor hoekom God sulke dinge toelaat?
Hoe kan God dit oor sy hart kry, om kinders te laat honger ly?
Die aand bid hy:
“Here, my gedagtes kan nie loskom van daardie dogtertjie nie!
Dit pla my so baie. As U ‘n God van liefde is,
waarom doen U nie iets om haar te help nie?”
Hy het God se stem duidelik gehoor:
“Ek doen iets. Ek bring haar gereeld oor jou pad.
Deur jou...wil Ek haar help.
Daarom gee Ek jou soveel seën, om ander te seën!
Jy is die antwoord op jou gebed, om haar te help!”
Die mense om jou is God se manier om vir jou te sorg.
En op jou beurt is jy God se antwoord op hulle gebede.
Gaan, en gee jouself. Wanneer jy dit nie doen nie,
wonder hulle of God hulle gebede hoor en verhoor!
Hoeveel keer wonder hulle nie of “God in jou”
by hulle verbyloop nie...
En of Hy enigsins hul gebede hoor...!
Ernest