Jy is geskep, het lewe ontvang, en is buitengewoon geseën.
Geseën - beteken dat jy oorlaai is met die wonderlikste van voorregte.
Jy is deel van God se familie. Jy is kind van God.
Reeds in Deuteronomium 32:10 vertel God hoe lief Hy sy volk,
sy kinders het. Hy omhels hulle, vertroetel hulle,
en versorg hulle soos die appel van sy oog. Treffend!
Psalm 17:8 bid ook: “Beskerm my soos die appel van U oog.”
Wat ‘n voorreg om so geseënd te wees. Om waarlik te leef!

Maar God het ons geskep om Hom bo alles lief te hê,
en ons naaste soos onsself. Ons is geskep, en in Christus herskep,
om soos Christus lief te hê. Die belangrikste aspek van ons lewe,
waarin ons die beeld van Christus vertoon, is om lief te hê!
Ons dra die Christus-Naam! Ons is Christene!

Aleksander die Grote was ‘n formidabele leier en soldaat.
Hy het bykans die destydse wêreld verower!
Hy het op ‘n soldaat afgekom wat liederlik in sy taak misluk het.
Die straf vir sy oortreding sou die doodstraf wees!
Aleksander die Grote het aan die soldaat gevra wat sy naam is.
Die soldaat het doodbang geantwoord dat sy naam óók Aleksander is!
Wéér het Aleksander aan die soldaat gevra wát sy naam is!
Bewend het die soldaat geantwoord dat dit Aleksander is.
Vir ‘n derde maal het Aleksander die Grote die vraag herhaal:
“Wat is jou náám?” Die soldaat het ‘n derde keer geantwoord:
“Aleksander, Generaal!”
Aleksander het hom direk in die oë gekyk en gesê:
“Soldaat!...óf jy verander jou naam!...óf jy verander jou optrede!”

Jy is geseën met jou naam Christen! Lééf nou soos ‘n Christen!
Moenie die naam wat jy dra deur die modder sleep nie.
By wyse van spreke, na aanleiding van Aleksander die Grote se oprdrag:
“Verander jou optrede, óf verander jou naam!”
Jy is Christen. Jy dra Christus se Naam. Christus is in jou, en jy in Hom.
‘n Gospel orkes,“Newsong”, sing: “We wear His Name –
the Name above all names –
lets not forget we represent the Name of Jesus Christ!”
Jy dra ook die naam: Kind van God. Jy dra jou Vader se Naam.
Immanuel. God is met jou.

Jy leef om soos Jesus te leef, en Hom te verteenwoordig.
As die beeld van God is jy ook sy verteenwoordiger! – Genesis 1:27.
Gaan leef Johannes 13:34: “...julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet,
moet julle mekaar ook liefhê.” Dra die Christen Naam!!

Ernest