Filippense 2:5 sê:
“Dieselfde gesindheid moet in julle wees
wat daar ook in Christus Jesus was.”
Christenskap moet op alle terreine van die lewe toegepas word.
Christenskap is nie ‘n Sondag godsdienstige oefening nie.
Jesus het ook nie na die wêreld gekom om ‘n goeie teologie te vestig nie.
Hy het gekom om mense totaal nuut te maak en ‘n nuwe leefwyse te vestig.
En almal wat aan Christus die troon-posisie in hul lewe gee,
leef met dieselfde gesindheid wat daar ook in Christus Jesus was.
Die doel van elke Jesus volgeling is om as kind van God te groei,
om meer en meer die beeld van Jesus Christus te vertoon.
Dit gaan werklik nie oor godsdienstige teorieë, of kerklike organisasie,
of godsdienstige oefeninge nie, maar oor die aanbidding van God,
met jou hele lewe in die alledaagse praktyk van jou lewe!
God se liefde vir jou, en jou liefde vir die Here,
moet weerkaats word in jou gesindheid teenoor alle mense!
Dit is wat met “dieselfde gesindheid van Christus Jesus” bedoel word.
Hoe edel jou godsdienstige teorieë ook al mag wees,
en hoe suiwer jy ook al jou godsdienstige leerstellinge mag beskou,
dit is nie waaroor dit in die eerste plek en uiteindelik gaan nie.
Indien dit nie lei tot praktiese Christen wees “soos Jesus” nie,
en indien jou karakter nie daardeur groei om meer en meer
die beeld van Jesus te vertoon nie, baat dit nie.
Indien jy nie jou medemens liefhet nie,
en nie jou medemens se laste help dra nie,
en nie jou medemens dien nie, beteken dit weinig.
Die Here se pad is nie teorie nie.
Die Here se weg is ware lewe wat vir Hom geleef word!
‘n Praktiese lewe waarin God eerste gestel word in jou hele lewe,
en waarin jy met “die gesindheid van Christus Jesus” mense dien,
en hulle in liefde na die Here lei met woord en daad.
Dit is ‘n lewe waarin jyself laag op die ranglys lê!
Met die eerste oogopslag lyk die praktiese uitvoering hiervan
na ‘n onmoontlikheid.
Indien jy egter met ‘n begeerte só wil leef tot eer van die Here,
sal Hý jou daarin laat slaag. So bevestig Filippense 4:13 dit:
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
Ernest