Baie mense ontdek nooit die ware skatte in hul lewe nie!
Of hulle weet van skatte in hul lewe,
maar waardeer dit nie na die waarde daarvan nie.
Die gawes van God word dikwels maar as vanselfsprekend aanvaar.
Dink net aan ‘n paar aardse skatte wat jy het,
en waarskynlik min oordink, en na waarde ag:
Jy kan elke dag na ‘n tuiste terugkeer. ‘n Dak oor jou kop.
Daar word jy ontvang deur mense wat jou liefhet en omgee.
Jy is geseën met ‘n vaste werk, en jy geniet dit boonop.
Jy het ‘n goeie humorsin wat ander mense se laste ligter maak.
Jy word deur mense waardeer, vir wie jy ook omgee.
Dit is sommer net ‘n paar van baie skatte in jou lewe.
Mense dink dikwels dat hulle niks van wesentlike
waarde in die lewe besit nie.
Hulle onderwaardeer die skatte in hul lewe,
en leef verby die vreugde daarvan.
En die een skat wat dit ongelukkig die heel meeste mee gebeur,
is die grootste skat van almal. Die lewe self!
Die lewe, ware lewe in oorvloed, in die Here!
God het aan jou die gawe van lewe geskenk,
en dit kan maklik gebeur dat jy elke Godgegewe dag van lewe
by jou laat verbygaan...sonder om die groot waarde daarvan in te sien.
Wat jy met jou Godgegewe lewe doen, is jou eie verantwoordelikheid.
Wanneer jy die lewe uit God se hand elke dag met waardering
en dankbaarheid aangryp, en dit voluit vir Hom leef,
ontdek jy soveel nuwe skatte wat jy reeds het!
Die lewe saam met die Here word vir jou ‘n opwindende avontuur.
En jy ontdek dat jou lewe in Christus, en Christus in jou,
jou heel grootste skat van alle skatte is!
Matteus 6:19-21:
“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot
en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie.
Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar,
waar mot en roes dit nie verniel nie,
en waar diewe nie inbreek en dit steel nie.
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”
Dit is die belangrikste om te weet:
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
Wat of wie is regtig jou skat in jou lewe, waar jou hart ook is,
en waar en vir wie jou lewe geleef word!?
Ernest