Wat is jou grootste wens in jou lewe? Dink mooi daaroor.
Want die kwaliteit van dié wens of begeerte bepaal die krag
of swakheid van jou lewe, en veral jou geestelike lewe.
Wanneer invloede van mindere belang ‘n groot rol in jou lewe speel,
is dit net ‘n kwessie van tyd voor jou lewe sin verloor en disintegreer.
Die suiwerste en grootste wens of begeerte wat ons kan hê,
is om Christus te ken, en die krag van sy opstanding te ondervind.
Paulus stel dit so in Filippense 3:10-11:
“Al wat ek wens, is om Christus te ken,
die krag van sy opstanding te ondervind,
en deel te hê aan sy lyding, deur aan Hom gelyk te word in sy dood,
in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”
Wanneer jy leef met hierdie wens, val ander lewens waardes in plek.
Sonder die begeerte om Christus beter en beter te ken,
verloor ons geestelike lewe sy motiverende krag.
Om Christus te ken is veel meer as ‘n emosionele ervaring.
Dit is ‘n daad van geloof wat jou hele lewe oopstel
vir die werking van die Heilige Gees in jou lewe.
Wanneer jy Christus meer en meer intiem leer ken,
in ‘n persoonlike verhouding met Hom,
vind dit praktiese gestalte in jou hele lewe.
Natuurlik sou dit onbereikbaar gewees het sonder die
krag van die opstanding van Christus in jou lewe.
Dit stel jou in staat om volgens sy wil te lewe.
Om die lewende Christus meer intiem te leer ken,
en die krag van sy opstanding te ondervind,
behoort die wens en begeerte van jou lewe te wees!
Leef daarvoor!
Ernest