Op wie of wat is jou hoop gevestig?
Sommige mense is optimiste en glo dat
alle dinge uiteindelik sal uitwerk.
Ander mense is weer pessimiste wat altyd
die ergste verwag in alle probleme.
Eintlik plaas suiwer optimisme en suiwer pessimisme
beide hul vertroue op die mens,
om alle probleme te kan oplos, of nie.

Volgelinge van die Here plaas hulle hoop op God.
Hulle besef die mens is feilbaar en het uiteindelik,
op sy beste, steeds ‘n gebrek aan alle insig,
en alle wysheid, en alle vermoë .
Daarom huiwer kinders van die Here om te veel hoop op
menslike vermoë te plaas.

Omdat gelowiges glo in die almagtige God,
wat goed en liefdevol is,
het hulle inderdaad positiewe verwagtings.
Christene is egter ook realisties,
en weet en erken dat probleme, misverstande,
terugslae, en tekortkominge deel is van die lewe.
Maar, hulle ken ook die goedheid van God!
Daarom hoop hulle!

Hoop is nie klakkelose optimisme nie,
en ook verseker nie wanhopige pessimisme nie.
Dit mag dikwels vir die mens voorkom asof daar geen
moontlikheid is om sekere probleme op te los nie.
Maar vir gelowiges is daar dan ‘n ander faktor aan die werk.
Vir hulle is die teenwoordigheid van God daarin
of daarmee die groot verskil! Sy bronne is onbeperk,
in terme van letterlik alles! Of dit iets materieel is,
of wysheid, of kennis, of insig, of wat ook al,
God is daarin onbeperk, besit alles, en het beheer oor alles!
Boonop wil God goed doen en in liefde optree teenoor die mens!
Daarom is ons hoop op Hom!

Klaagliedere 3:24-26: “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here....”
Christene pas hierdie hoop-faktor toe op hul persoonlike lewe,
en op die globale lewe.
Daarom kan hulle ook verse 21-23 uitleef in hul persoonlike lewe,
en in die totale konteks van hul bestaan:
“Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:
Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut. U trou is groot!”

Hoop! Leef met die hoop wat God jou gee!

Ernest