Jesaja 55:8-9:
“...soos die hemel hoër is as die aarde,
so is my optrede verhewe bo julle optrede
en my gedagtes bo julle gedagtes.”

Ons dink in terme van ontvang.
God dink in terme van gee.
Ons beperk ons denke van dinge in verhouding tot hulle
plekke in die ruimte, of die tyd daarvan in ure , dae of jare.
God dink in terme van die ewigheid,
en is geensins gebonde aan tyd, plek of ruimte nie.
Ons dink selfgerig aan wat ons nodig het om in ons behoeftes te voorsien.
God dink aan hoe Hy sy liefde en regverdigheid met ons deel, sodat ons leef!
Ons wil reëls en wette hê en daarvolgens lewe,
en ander daarvolgens beoordeel en veroordeel.
God werk in terme van liefde, genade, en karakter.
Ons voel en leef skuldig oor die gemors wat ons veroorsaak.
God vergewe en dink aan hoe Hy ons lei om die karakter
van Jesus uit te beeld en uit leef.
Ons fokus op probleme en moeilikhede.
God sien die oplossings en skep die geleenthede.
Ons bind ons lewe in knope en frustrasies vas.
God bevry ons en bewerk wonderwerke.
Ons skep deur selfsug, swakheid, en feilbaarheid soveel probleme
vir onsself en mense rondom ons.
God plaas ons op ons sterk punte van sy gawes aan ons,
en begelei ons om te beantwoord aan sy roeping vir ons.
Ons sien ouderdom en dood as die einde van die pad.
God sien dit as ons groei in wysheid en sy begeleiding van ons tot ons
geestelike volwassenheid en teenwoordigheid by Hom.

Daar is ‘n Walliese spreuk wat sê:
“Daar is drie dinge wat net God weet: die begin van alle dinge,
die oorsaak van alle dinge, en die einde van alle dinge.”
God weet eintlik alles en ons “niks”...

Sou ons moedeloos word as ons aan onsself dink....Nee!
“Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie.
Al is ons uiterlik besig om te vergaan,
innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.” – 2 Kor. 4:16
Goddank! God bly met ons besig,
en sal sy goeie werk in ons voltooi!

Ernest