Die mens verheerlik homself, veral in terme van sy prestasies.
Ons raak vir onsself baie belangrik in terme van wat ons vermag.
Ons bou damme om water te beheer, en skiet vuurpyle na wolke vir reën,
en tog kan ons onsself nie seën.
Ons bou die Concorde passasier straler wat die klankgrens kan breek,
rekenaars wat net kleiner en sterker raak,
internet wat alles in die wêreld netwerk.
Ons doen ruimtenavorsing en soek lewe daarbuite,
sonder ware lewe hierbinne...
So kan ons aanhou voorbeelde noem van menslike “vooruitgang”.
Ons dink daar is geen einde aan wat ons kan vermag nie.
Ons ly aan ‘n oppervlakkige optimisme dat ons alles sal kan beheer.
En tog...ons laat mense sonder die Evangelie verlore gaan,
ons vernietig miljoene medemense in massamoorde,
verkrag kinders en vroue, besoedel die aarde in die naam van vooruitgang,
laat miljoene mense honger ly, vlieg met vliegtuie in wolkekrabbers vas.
En ‘n “wêreldleier” en “rocket man” dreig mekaar...
Met al ons verstommende “prestasie” is ons nog niks nader aan vrede nie.
Of aan die voeding van honger mense nie, en word mense al armer,
en die geld in rykdom en weelde al hoe meer. Hebsug. Wreed. Geslepe.
Wat ons ook al oor onsself dink of sê, ons is mense, en nie God nie!
Maar God is God en nie ‘n mens nie.
Hoewel ons sou dink dat Hy eenvoudig die aarde hieroor sal platvee.
Hosea 11:8 sê hoe anders God dink en optree in sy liefde en genade:
“Maar hoe kan Ek jou prysgee?...Hoe kan Ek jou laat vaar?...
Ek kan dit nie oor My hart kry nie. My liefde brand te sterk.”
Vers 9: “...want Ek is God, nie ‘n mens nie.”
“Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.”
God is volkome anders! Dit is wat dit beteken as daar staan:
“Ek is die Heilige...”
God is bo die sfeer van menslike ondersoek of begrip.
God is nie ‘n “dit” wat ondersoek kan word nie, maar Hy is: “EK IS”.
Hy nader ons in liefde en genade,
spreek ons aan, konfronteer ons liefdevol met sy Woord,
en roep ons om aan sy doel met ons lewe te beantwoord.
God is ewig onveranderlik. Ons verganklik en onbetroubaar.
Hy is heilig, en ons word gered uit goddeloosheid en sonde.
Hy is liefdevol genadig. Ons self gesentreerd.
Hy gee en deel uit, terwyl ons gryp en inpalm en opgaar.
Hy vernuwe, terwyl ons ‘n spoor van vernietiging laat.
Hy kommunikeer met ons, en ons sny kommunikasie af.
Hy vergewe keer op keer, terwyl ons grief op grief opbou.
Hy het ons onvoorwaardelik lief, terwyl ons...
Terwyl jy... terwyl ek...
Ernest