God weet alles.
Hy weet ook reeds van dit waarin jou gewete jou aankla.
Ons doen dinge of ervaar dinge wat ons gewete onder
groot druk plaas. Soveel so dat ons ook
vrymoedigheid verloor om daarmee na God te gaan.
Mense wonder selfs of hul sonde nie so groot was of is,
dat God hulle daaroor verstoot nie! Kan Hy regtig dít vergewe?!
So kan dit gebeur dat ons gewete ons veroordeel en aankla,
en ons perspektief verloor. Veroordeel God ons,
en kla God ons dan ook aan? God is groter as jou gewete!
Indien jy in so ‘n situasie is, of ooit daarin kom,
onthou hierdie belangrike waarheid van 1 Johannes 3:20:
“As ons gewete ons veroordeel –
God is groter as ons gewete, en Hy weet alles”.
Lees dit weer. God is groter as ons gewete, en Hy weet alles!

Moenie toelaat dat jy die res van jou lewe deur
jou gewete gemartel word nie. Dit is wat die Bose wil doen.
God weet meer van jou probleem as jyself.
Hy weet alles! Hy weet wat gebeur, en hoekom dit gebeur het.
Hy weet van die druk waaronder jy was. Of dat jy mislei is.
Hy weet hoe jy geworstel het om die regte ding te doen,
en tog ‘n fout gemaak het. Hy weet van jou gebrek aan insig,
en jou oordeelsfoute.
Hy ken die swakhede in jou mondering en beredenering.
Hy ken jou beter as jyself.
En ten spyte van dit alles het Hy jou nog oneindig lief!
Hy kan alles doen om jou te help.
Hy wil jou vergewe as jy daarmee, in opregtheid,
na Hom toe gaan in sonde belydenis.
Hy wag vir jou met oop arms en hart!

Niks wat jy ooit kan doen, of wat met jou gebeur,
kan jou uit die sfeer van sy liefde wegdwing nie.
Niks kan jou buite die genade van God plaas nie.
Gaan daarom met jou seer, onsekerheid, skuld,
met jou gewete wat jou aankla, na God toe!
Jy kan juis met soveel vrymoedigheid gaan,
omdat Hy alles reeds weet, sê 1 Joh. 3:20.
Jy breek nie nuus by God nie!

Billy Graham het gesê ons volg soms ons gewete
soos ons ‘n kruiwa volg. Ons stoot dit heeltyd voor ons uit,
in die rigting waarin ons wil gaan.
Ons word dan slawe van ons gewete.
Die Bose wil jou voortdurend aankla deur jou gewete.
Jou gewete vergewe jou nie.
God vergewe jou!
Gaan na God toe! Vrymoedig!
Hy is groter as jou gewete!

Ernest