Moenie dink jy sal die grootheid hiervan ooit kan begryp nie:
God is liefde!
Moenie ooit “gewoond” raak aan hierdie waarheid nie.
Leef eenvoudig daagliks daarin en daaruit, en lééf ware lewe!
1 Johannes 4:16: “ God is liefde; wie in die liefde bly,
bly in God en God bly in hom.”

Wat is liefde? Ons kon dit nog nooit “raak” definieer nie!
Dit is te groot! Ons praat so maklik in terme van liefde.
Op ‘n T-hemp staan “Ek is lief vir Rooibos”,
met ‘n hart in die plek van die woord “lief”.
Eintlik geniet die draer van die T-hemp net rooibos tee.
Ons is “lief” vir die Blou Bulle of die WP.
“Lief” vir motors, “lief” vir sport. “Lief” vir ons land,
en selfs bereid om daarvoor te sterf!
Ons is “lief” vir ons kinders, “lief” vir ons lewensmaat,
en “lief” vir God!

Wanneer die Bybel sê “God is liefde”, is dit onbegryplik groter!
Dit beteken dat God in wese volmaakte liefde is!
In eerbied sê ons dit is die kern-element,
die kern-karaktertrek, van sy bestaan.
Al sy “kwaliteite” is liefdevolle kwaliteite.
Hy is nie net Skepper nie, maar skep met liefde.
Hy regeer nie net nie, maar regeer met liefde.
Wanneer Hy praat, praat Hy in liefde.
Wanneer hy oordeel, oordeel Hy in liefde.
Alles wat Hy doen, doen Hy in liefde.
Want God is liefde! In sy wese “kan” Hy nie anders nie.
Dit is die uitdrukking van Wie God is!

God het jou persoonlik baie lief.
Hy het jou 24/7 lief, of jy daarvan bewus is of nie.
Hy het jou lief wanneer jy gesond is, en ook wanneer jy siek is.
Hy het jou ewe veel lief, of dit met jou goed of sleg gaan.
As mense jou haat, God het jou steeds lief.
As mense jou verlaat, sal God nog in liefde by jou bly.
Hy het jou lief wanneer jy “dink” jy verdien dit,
en ook wanneer jy dit glad nie verdien nie.
Daarom het Hy die “onmoontlike” moontlik gemaak,
dat jy IN HOM kan lewe! En HY in jou!
“God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.”

C. S. Lewis het gesê: “God, wat niks nodig het nie,
skep heeltemal oortollig mense, sodat Hy hulle kan liefhê,
en op hierdie wyse tot volmaaktheid kan lei.”
God het jou só lief!

Ernest