Jesus steek sy hand uit om jou aan te raak.
Hy wil lewens-veranderend aan jou raak.
In Markus 1:40-41 lees ons hierdie merkwaardige gebeure:
“Daar kom toe ‘n melaatse man na Hom toe wat smekend
op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê:
“As U wil, kan U my gesond maak.”
Jesus het hom jammer gekry, sy hande uitgesteek,
en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond.”
Ons weet hoe baie aanraking beteken en sê. Veral deur ‘n geliefde.
‘n Aanraking aan die skouer. Iemand wat jou hand vat. ‘n Drukkie.
Die melaatse wat deur Jesus genees is, was egter “onaanraakbaar!”
Die wet het vereis dat hy van alle mense af moet wegbly! Ook geliefdes!
Oral waar ‘n melaatse beweeg het moes hulle uitroep: “Onrein!”
So is hulle verplig om mense te waarsku om hulle te vermy.
Hierdie siekte het jou van die gemeenskap en selfs jou geliefdes afgesny.
Toe Jesus sy hande na hierdie melaatse uitsteek, moes dit alles sê!
Dit is nie eers die laaste ding wat jy doen nie. Jy doen dit glad nie!
Deur dit te doen het Jesus die wet verbreek!
Hy het ook sy eie lewe in gevaar gestel.
Maar bo alles: Jesus het aangedui dat Hy die melaatse in al sy
eensaamheid en isolasie onvoorwaardelik liefhet en aanvaar.
Jesus bevestig dat God die melaatse liefhet en hom wil genees.
God steek ook in Jesus sy hande uit na jou toe.
Hy het jou lief en raak jou aan. Of jy gesond of siek is. Jonk of oud.
Gelukkig of ongelukkig. Arm of ryk. God se liefde diskrimineer nie.
Hy reik uit oor al die gapings wat jou van mense skei.
Oor alle “melaatsheid” heen.
Hy wil jou aanraak met liefde, warmte, genade, aanvaarding.
In Christus wil God lewens-veranderend aan jou raak!
Maak jou hart oop vir Hom, en kom soos die melaatse na Hom.
Steek ook jou hande uit na Bo, na Hom!
Ernest