Ons praat dikwels asof God net soms
uitsonderlike dinge in ons lewe doen.
Dan sien ons net die wonderwerke raak,
soos toe Jesus die melaatse man genees het.
En dan verhef ons die daad of die persoon,
met wie iets uitsonderlik gebeur het,
volgens ons siening, tot prominensie.
Ons sal uitsonderlik praat oor iemand wat uit
die Moslem geloof tot bekering gekom het.
Asof dit ‘n groter wonder is as ‘n “gewone” bekering.
Of iemand wat van drankmisbruik verlos is, of dwelms.
Ons verhef dan dié “wonderwerk” bo die wonderwerk
wat God daagliks in ons lewens doen.
Asof God dan net in sekere mense se lewens “groter”
dinge doen as in ander se lewens.
En dikwels is dit dan ook vir sulke mense moeiliker om die
hoë agting van ander oor God se werk in hul lewens
nederig te verwerk. Hulle het dan ‘n besondere getuienis,
en ons kyk op na hulle asof die werk van God in hulle lewe
meer besonder is as in ons lewe.
Ons voel selfs dat ons minderwaardige gelowiges is,
en hulle geloofshelde is.

Die melaatse man wat deur Jesus genees is,
het ook voor so ‘n versoeking gestaan.
Hy was “bestem” om beroemd te word,
want in daardie dae was die genesing van melaatsheid
‘n onmoontlikheid vanuit menslike oogpunt gesien.
Jesus het in sy lewe inderdaad ‘n wonderwerk gedoen.
En dan sê Jesus vir hom in Markus 1:43-44:
“Moet vir niemand iets hiervan vertel nie,
maar gaan wys jou vir die priester en
bring die offers vir jou reiniging...
Dit sal...die bewys wees dat jy rein geword het.”
Toe Jesus hom beveel het om die voorgeskrewe offers
vir sy reiniging te bring, wou Jesus verhoed dat hy
die hele omgewing in beroering bring.
Jesus wil die klem laat val op die eer en dankbaarheid aan God.
Hy moes na die tempel en die priester toe gaan en verklaar
dat wat met hom gebeur het ‘n wonder van God was.
Die mense het geglo dat slegs God melaatsheid kan genees.
Die eer vir die wonderwerk moes net God toekom.
Die man moes nie die kollig gaan steel nie.

God doen daagliks in ons lewe wonderwerk. Alles wat Hy doen!
Daar is nie groot en klein werk van God in ons lewe nie.
Die blote feit dat God in ons lewe teenwoordig is, is God-groot!
Ons kan nie sekere dinge verhef en daarmee in die kollig in beweeg nie.
Gee al die eer vir jou hele lewe as kind van God aan God alleen!

Ernest