Goedhartigheid is deel van die vrug van die Heilige Gees
in ons lewens, volgens Galasiërs 5:22.
Goedhartigheid is nie ‘n toestand nie, maar ‘n daad!
Daar is twee Duitse spreekwoorde wat sê:
“As jy niks goeds doén nie, is jy reeds besig om kwaad te doen.”
En: “Ons doen genoeg kwaad, wanneer ons nié goed doen nie.”
Dit gaan nie net daaroor om goed te wees nie, maar goed te doén!
11 September sal altyd onthou word as ‘n swart dag
in die geskiedenis van die wêreld. Op daardie dag in 2001,
het twee vliegtuie in die Twin Towers in New York vas gevlieg.
Ron Fazio was ‘n toegewyde familie-man en ‘n bekwame bestuurder
van ‘n maatskappy in die Wêreld-handelsentrum in New York.
Toe die eerste vliegtuig deur die eerste toring bars,
het Ron dadelik gesorg dat sy werknemers en ander mense van sy vloer
veilig by die gebou uitkom. Hy het bly teruggaan om mense te help,
ten spyte van mense wat hom aangemoedig het om weg te hardloop.
Uiteindelik was hy te laat om te probeer uitkom,
en kon net nie betyds wegkom nie. Die gebou het op hom ingestort.
Sy kollegas het later vertel dat hy altyd “goed” was,
maar dat hulle sy goedhartigheid op daardie dag werklik gesien het,
in sy dade van opoffering. Goedhartigheid is ‘n daad. Nie ‘n toestand nie.
Goedhartigheid doen! Goedhartige mense wil nie suksesvolle dinge
doen nie, maar betekenisvolle dinge! Lewens-veranderende dinge!
Goedhartigheid gee betekenis aan die praktyk van die lewe.
Edmund Burke het gesê:
“Al wat nodig is om die bose te laat oorneem,
is goeie mense wat niks doén nie.”
C. S. Lewis het ook gesê:
“Goed en kwaad groei albei deur saamgestelde rente.
Dit is waarom die klein dáde van goedhartigheid
elke dag so oneindig belangrik is!”
Moenie net goed wees nie...Doén goed!
Ernest